Partykeer
Partykeer word ek
geslaan met lamheid
van dankbaarheid in my bene
en kan ek nie anders
as om op my knieë te gaan nie.
Ek is nie 19
met ‘n gewas op my brein nie,
ek was nie sewe en wees nie,
ek is nie ‘n 40 jarige
hawelose doellose
voosvodde bedelaar nie.
Partykeer word ek
geslaan met lamheid
van dankbaarheid in my bene
en kan ek nie anders
as om op my knieë te gaan nie.
Ek is ‘n gemiddelde mens
met ‘n gemiddelde kar,
met ‘n gemiddelde huis,
met ‘n gemiddelde werk en
‘n gemiddelde salaris.
Partykeer wel die trane
soos poele in my oë
want die lewe is so onregverdig
en daar is mense wat soveel meer is
as gemiddeld en soveel meer het as ek.
Partykeer, net partykeer
slaan die besef my
tot in die krop van my maag :
ek is presies wie ek is en waar ek moet wees,
ek is presies waar ek nodig is
sonder om oorbodig te wees.
Is ek die beste gemiddelde ek wat ek kan wees?
Ek kon soveel minder of soveel meer wees-
ek wens dat daardie danbaarheid en besef
my nie net partykeer sal tref nie, maar altyd.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.