Jongste aktiwiteit:

Passiespel

Passiespel

Hierdie is nie die gewone tradisionele storie rondom Paasfees nie. Dit is die wedervaringe van ‘n skriba wat oor baie jare strek.

Daar is ‘n kerk wat elke jaar ‘n opvoering aanbied. Dit is ‘n glansryke dog stigtelike geleentheid wat met verskeie opvoerings oor paasnaweek plaasvind. Die tegniese span wat verantwoordelik is vir die klank en beligting voorsien hul eie gespesaliseerde toerusting. Hulle gebuik ook hul eie kragopwekker… amper so groot soos ‘n bus. So gepraat van ‘n bus, toergroepe word van heinde en verre af aangery met toerbusse. Elke beskikbare bed word beset. Inwoners van die dorp word aangemoedig om deel te neem of om kos te maak. En dis hier waar ek inval met my storie, by monde van die skriba. Kom ons noem haar ‘Superwoman’.

‘n Reuse tent word op die kerkgronde opgeslaan. Reg oorkant die kerkgronde is Superwoman se huis. Dit is grondpad. Motors en busse ry heeldag, elke dag, by haar huisie verby. Die stof sluip, tot haar onsteltenis, soos ‘n dief in die nag in haar huisie in. Terloops, die pad is al vodde gery. Vreemd, die paaie rondom die kerk word elke jaar geskraap behalwe die een waarop die meeste verkeer is. Dit is nou die een wat voor superwoman se huis verbyloop. Die groot tent huisves ‘n klomp tafels waar gaste hulle etes nuttig. Reg rondom die tafels is kosstalletjies.

Daar word seker gemaak dat superwoman nie ledig is nie en word orals ingespan. Sy sorg elke jaar dat elke stalletjie die regte hoeveelheid kleingeld ontvang. Dit word nagegaan en afgeteken. Sy kry ook ‘n stalletjie om te beman.

Na afloop van die naweek se opvoerings is dit chaos. Sy moet ook elke jaar, soos al die ander wat kosstalletjies beman, se oorblywende voorrade verpak en naas haar eie opbrengs, ook die ander se opbrengs in ontvangs neem, dit nagaan en afteken. Almal drom om haar saam om eerste geholpe te raak. Party het egter geen idee wat die doel van ’n banksakkie is nie. Superwomen moet eers verduidelik dat sy dit slegs in ontvangs neem as munte wat dieselfde lyk en volgens ‘n sekere bedrag in ‘n banksakkie geplaas word. Daar word gemor en kyke uitgedeel as sy die bultende geldsakkies teruggee. Sy raak verboureerd en voel hoe haar bors saamtrek. Die huil sit vlak in haar keel, maar sy gaan moedig voort met haar taak.

Die volgende dag gooi sy al die sakkies geld op ‘n hoop en tel dit weer. Dit het ‘n metaalagtige reuk wat tot haar mond naderhand laat sleg proe. Terwyl sy besig is om te tel, lui die foon onophoudelik: “Hoeveel is die opbrengs?” “Skakel my asseblief later terug” antwoord sy moedig. By die bank staan sy met swaar sakke geld haar beurt en afwag om geholpe te raak. Dan word alles wéér getel terwyl kliente agter haar mor.

Die teller beweer die bedrag is verkeerd… haar senuwees rafel nou behoorlik uit. “Tel oor asseblief” versoek sy met ‘n piepstemmetjie. Die huil sit alweer vlak.

Eindelik is die marteling verby.

Op ‘n ligter trant…

Die stalletjies is baie bedrywig na elke opvoering. Mense verdring mekaar… dors en doodhonger. Die dames wat die stalletjies beman moet hul storie ken. Superwomen word oor die vingers getik omdat sy te veel opskep. Arme superwoman probeer só hard om almal tevrede te stel. Sy wikkel haar plomp lyfie en in haar haas haak haar voet aan die kosverwarmer se elektriese koord vas. Die prop ruk morsaf en die kabel spoeg vonke. Sy val haar asem uit, maar niemand help haar op nie. Niemand kan haar in elk geval sien nie want die hele tent is in donkerte gehul! Daar is geen musiek nie, niks nie, net ‘n paar gille hier en daar… alles kom tot stilstand. Gelukkig is daar ‘n elektrisiën aan diens. Ook maar goed dat hy nie vir superwoman vra om die flits vas te hou nie. U sal later verstaan hoekom nie…

Superwoman het haar huisie, wat eens ‘n murasie was, omskep in ‘n droomhuisie. Hy doen sy naam gestand, naamlik ‘Miracle’. Bowenal floreer haar groentetuin! Sy besluit een jaar om by haar vriendin se woonstel te plak en haar huis uit te huur aan toeriste.

‘n Paar dae voor haar gaste sou opdaag vra iemand haar of sy haar asseblief sal ontferm oor ‘n katjie wat geen heenkome het nie. Superwoman het nog nooit geleer om ‘nee’ te sê nie. Die katjie is toe glad nie so klein nie en is verwilderd. Dit blyk toe ‘n stalkat te wees wat van muise leef. Daar is al so baie katte in die stal dat daar nie genoeg muise is vir al die katte nie. Hy maak tot haar ontsteltenis orals sy merkies, maar raak dan rustiger.

Die toerleier met sy ‘mensies’ daag ‘n paar dae later op. Gelukkig is niemand in die groep allergies vir katte nie. Sy laat dus die kat met ‘n geruste hart by die huis en neem haar intrek by haar vriendin. Die volgende dag gaan doen sy inspeksie. Dit stink verskriklik! Die toerleier kyk haar vies aan. Met ‘n rooi gesig maak sy skoon waar kietsie nommer twee gedoen het en spuit lugverfrisser.

Dit gaan wild tydens Passiespel en niemand sien kans om kietsie oor te neem nie. Katte word ook nie toegelaat by haar vriendin se woonstel nie. Die dag daarna is sy in die grootste verleentheid denkbaar… Kietsie het in die toerleier se tas gepiepie. Superwoman gaan laai Kietsie, in trane, in die veld af, waar hy eintlik hoort… om muise te vang. Die volgende jaar beland dieselfde toerleier by haar huis. Hy wou nie eers uit die bus uitklim nie!

Dit reën elke jaar tydens Passiespel. Niemand neem ons ernstig op nie… dit is dan so heerlike dag met geen wolke in sig! Ja neh? Soos blits pak die wolke saam en dit sous sonder ophou! Gou is al die sambrele in die dorp uitverkoop. Die koöperasie se gumboots ook. Ooms en tannies daag met stortkappies, handdoeke om die skouers en skoentjies in ‘n plastieksak op.

Die water dam aan die een kant van die tent op. Iemand dink hy is baie slim en lig die tentflap op. Daar hardloop ‘n stroom water deur die tent wat ‘n tsumani sal oortref. Al die voorrade wat onder die tafels gestoor word, swem tot teenaan die ander kant van die tent, bo-oor die toeriste se voete wat by die tafels sit en eet. Handsakke, inkopies en sambrele swem saam. Dit is chaos. Die tentflap aan die anderkant, waar die water opdam, word opgelig sodat dit kan deurvloei… almal storm na buite om hul besittings te red.

Terug by superwoman… So tussen al die pligte deur laat sy haar ompraat om haar lyf aktrise te hou. Sy is in haar noppies… dit is hoeka een van die items op haar ‘bucket list’. Weliswaar net ‘n ‘background’ aktrise, maar sy is op die verhoog! Om dit eg te laat lyk moet sy haar bril afhaal. Na afloop van die optrede word al die ligte verdoof totdat al die deelnemers van die verhoog af is. En daar staan sy in die stikdonker. Sy is stok- en nagblind en kan nie die trappies vind nie. Saggies roep sy: “help, help” maar niemand reageer nie. Weer roep sy om hulp; die slag ‘n bietjie harder. ‘n Toeris kom tot haar redding. Die trappies is egter swart geverf en daar is geen reling nie. Sy seil toe maar so op haar boude daar af. ‘Aktrise’ word met ‘n dik streep doodgetrek op haar ‘bucket list’.

Daar word toe besluit om haar eerder in te span om nagmaalglasies te vul. Dit word in die kerk se voorportaal gedoen, in die donker. Superwoman moet die flits vashou. Sy word gemaan om nie die rooi knoppie te druk nie. Het hulle dan nog nie hulle les geleer nie? Sy is nagblind en druk per ongeluk die rooi knoppie. Die flits verander in ‘n rumoerige, bewende draak (shockstock). Sy swets en laat val die monster. Die ander, bietjie onder die prop van al die wynproe lag histeries. Die ergste is, sy word daar uitgeboender sonder om ook ‘n slukkie nagmaalwyn te kry.

Teen hierdie tyd is almal deeglik bewus van superwomen se bestaan. Om haar uit die moeilikheid te hou word sy gevra om nagmaalbrootjies te sny… seshonderd en vyftig! Daar word gereken dit behoort haar vir die dag besig te hou. Superwomen is egter baie vinderryk en gryp ‘n skêr. Dit het baie aandag getrek… die snyery met ‘n skêr. Een van die diakonesse sê nou onlangs sy sal haar moet haas, die nagmaalbroodtjies moet nog gesny word, maar ag sê sy, dit gaan vinnig, sy sny dit sommer met ‘n skêr!

Een jaar beland superwomen by die pannekoektafel… sy bak sommer drie op ‘n slag! Fantasties, sy het uiteindelik haar roeping gevind, maar ai tog, daar word gemor dat haar pannekoeke te dik is!

Arme, arme Skriba

@Elize Ehlers




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed