Jongste aktiwiteit:

Plek van die verlore bok-ooi – ‘n halfedelsteen (Brons)

Gisteraand kyk ons na clips
van Kalahari-fauna by vriende se braai.
My man raak verveeld,
maar ek dink aan my kleintyd
wat deur Prieska draai
aan die voet van die koppie
in die kleinste huurhuis –
dit was my pa se eerste praktyk –
het ons teen die rantjie uitgeklouter
en vanaf die fort oor die dorp uitgekyk.
My ma het gewaarsku oor die slange daar,
maar ons het ‘n likkewaan in ons eie erf gewaar!

Daar was baie windpompe
en klippe wat jou voete brand soos hel,
maar ek onthou ook jakobregops en sonneblomme –
en my ma se bokbaaivygies in droë sand gekweek.
Sy het ‘n plakkaat van Huppelkind geskets
vir die dorp se beste blinkoog biblioteek.

Die nagte was so warm, mense het buite
op stoepe agter muskietgaas geslaap
en bedags was die kraaie te lam om te gaap.

Anna was ‘n Griekwavrou, sy was soos ‘n ma.
Sy’t gaan kuier by mense van haar
en vir my ma presente
by die Kimberley-winkels gekoop,
so eenkeer ‘n jaar.

Die rivier was ‘n lafenis, koel lewensaar,
ons het dikwels in die vlakwater baljaar.
Eendag het ek ‘n tieroog daar raakgetrap,
wat ek met twee hande moes optel – dit was so swaar!
Dis ook ‘n wêreld van koper en baie rooskwarts.
As dit hard reën en die Oranje soos ‘n tsunami afkom,
het die hele dorp by die pad saamgedrom
om te kyk na die wonder en of die brug sou bly staan.

My skoolklere en tassie was donkerblou.
Ek herroep die geur van vetkrytte,
tamatiebroodjies in ‘n hondjieblik,
rooi koeldrank en die heel beste
in die ganse noordweste:
prentjies van Koeloe en Duif en Sus en Daan.

Die tieroog is vandag nog die stop wat my voordeur oophou,
my aan die nuus van Kennedy se dood laat dink
en aan ‘n dorp vol regte mense en en juwele wat blink,
in die middel van ‘n streek waar voëls versamelneste bou
en talle ander diere net noord in die Kgalagadi rinkink.

©Charleine Collins 29 November 2018




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed