Jongste aktiwiteit:

Regie in ROLPRENTE

Regie in MODERNE ROLPRENTE

[Deel 1 van 2]

Iemand het op ‘n tyd gesê, „Die filmregisseur is díe mens wat ons die meeste manipuleer! Hy sê ons waarheen ons moet kyk en hy versteek die dinge wat ons nie mag sien nie agter die kamera.” Dit wil sê, as jy gaan fliekkyk, laat jy toe dat ander mense mag oor jou kry. Hoesê, asseblief?

Tog, tog! In ‘n mate is dit ja waar. Soos in die nuusprente, óf koerant óf TV-beeld: Mens sien die pragtige nuwe woongebied vir armes êrens waar dit werklik armsalig is, met park en kinderspeelplek — maar ons sien nie die krotgebied agter die fotograaf nie. Of anders: Onder die uitgedroogde woestynboom sien ons die gerippe van ‘n dier wat in die droogte gevrek het, maar nie die weelderig-bloeiende tuine in die spogwoonbuurt, met eie water uit diepbronne, agter ons nie.

Speelfilm is nie nuusfilm nie; dit weet ons al. Wat ons ook weet, is dat Hollywood as „droomfabriek” gekenteken word. In die sin dat iemand iets vertel van gebeurtenisse in ‘n land wat nie bestaan nie: Nimmerland, Feërie, Droomland, „The land of green ginger”, „Somewhere over the rainbow”, „Land des Lächelns” en soos hulle almal genoem word . . . Dit neem ons waar en meen dat dit so goed is.

En hierdie bekentnis lê ons af wanneer ons ons kaartjie aan die venstertjie koop. Soos wanneer ons ons „aflewer” in die kermistentdorp om ons toekoms te laat voorspel of om ons te laat hipnotiseer. Mense wat niks vir uitgedagte (aldus fiktiewe) verhale oor het nie, praat van bedrog en „leuensstories”. Dis hulle reg. Miskien is hulle reg.

In die moderne weergawe van wat ons vroeër „Skop, skiet en donner” sou genoem het (bv. Willeweste en science en crime fiction), word baie SFX (special effects = besondere tegniese kunsgrepe) óf visueel / sigbaar gebruik, by voorbeeld met verandering van die beeldoppervlakte (vervalsing) verandering van spoed asook met kleurfilters; óf akoesties / hoorbaar, by voorbeeld met ekstreem sagte of harde klanksterkte en Dolby surround; en ook ander truuks om die rol-prente te verander — om die storie voraan te dryf, te laat rol. Besonders om die sensasielus van die toeskouers te verhoog en daarmee hul adrelien te laat pomp. Ook in musicals, waarby die klanke uit musiekinstrumente (sou) stam eerder as van bomontploffings en skreeuende motorwiele om die draai.

Daar was ook eksperimente met geure, bv. laventel of jasmien by ‘n liefdestoneel in ‘n tuin, die reuk van kryt in ‘n oorlogstoneel, die aroma van vars seelug, van verskrooide motorbande, Jeye’s Fluid in ‘n hospitaal en heelwat andere. . . Maar dit was op die ou ent nie so doeltreffend nie want die belugting in die saal kon die geure nie gou genoeg uitruil nie, en bowendien was dit nie die werk van die bioskoopmense om ‘n „geuroskoop” ook nog te bewerkstellig nie. Díe mode het gou uitgesterf.

En nie die „driedimensionaliteit” vergeet wat nie eg is nie, maar voorgespieël word. Ook ‘n ou mode van vyftig jare gelede wat teruggekeer het. Vir hoe lank nog?

Watse hernuwings kan ons speur?

Dis nie nou moontlik of nodig om álle hernuwings en afwykings aan die adres van Hollywood-blockbusters af te laai nie, alhoewel dit dikwels makliker is om dit juis daar te sien – omdat hulle mos só-o oorweldigend is. Hernuwings is oral in die filmkuns möglich. Elke kuns leef mos van hernuwings.

Voordat ons aan die hernuwings krap, laat ons eers kyk wat is die huidige bestand:

Ons het bewegende kleurprente wat kan praat en sing en huil – en ons hoor newegeluide soos bv. telefoonklokkie, wind in die bome, perdegetrippel en baie meer. Daar kan na- of ver-opnames wees: ons kan inzoom van ver- op na-opname (ook „uitzoom”) en iemand of iets kan deur ‘n bewegende kamera van plek tot plek „agtervolg” word; ons kan deur middel van filters op ‘n sonnige dag ‘n nagtoneel met volmaan voormaak. Ons kan ‘n gesprek só opneem dat die toeskouer elke keer in die gesig van die karakter kyk wat praat — want dit word tweekeer opgeneem en tereggesny / geknip en weer aanmekaar gelas. Ons kan ‘n tydspan „oorspring” — ‘n uur. ‘n dag, ‘n eeu, ook terug in die verlede – so ook in die ruimte heen en weer beweeg — van die sitkamer na die kombuis, na Reykjavik op Ysland en terug, na die maan, in ‘n muisie se nes inkruip. . .

Daarom benodig ons ‘n hele skaar medewerkers: Timmermans, skrynwerkers, skilders; kleremakers, haarkappers en grimeerders — soos in die teater. Anders as in die teater egter: Nie net elektrisiëns en beligtingsmense nie, maar elektroniek-tegnikusse wat met digitale programme en „Aaitie” en sulke dinge kan omgaan, naas modelbouers en kunsskildenaars om dinge „in die verte“ daar te stel. Besonders belangrik is die „agterna werkers” wat ver van die opname-ateljees die tegniese aftonding uitvoer, wat die tonele aanmekaar kleef en diegene wat die klangbaan só aanbring dat die geluide wat ons hoor presies ooreenstem met die prentbewegings wat ons op die silwerdoek – of ook die TV-skerm – sien. Die knippers en (ek sê maar) die aanmekaarlassers en nog baie ander handwerkers.

Die vernuwings skyn hoofsaaklik van tegniese aard te wees.

Die eerste verhale in die stomfilmtyd was meestendeels eenvoudige vertellings: Eers dit, dan dat en dan en dan en dan. Destyds het die regisseurs reeds geweet hoe om die toeskouers te manipuleer, te fop: iemand spring by ‘n verster uit . . . en ons sien hoe ‘n perd in ‘n stofwolk weggallopeer; ‘n donker skaduwee met hoed breek los uit die algemene donkerte, ons sien hoe ‘n mes se lem blink . . . en ‘n man lê op die grond in die maanlig, bloed loop kamma uit sy mond; ‘n voet tref ‘n bal en ons sien ‘n bal tussen die pale daar agter deurseil en hier op die voorgrond gooi ‘n man vreugdevol sy hande in die lug . . .

Was dit dieselfde bal? Was dit die voet van die man wat juig? Wie se voet was dit? Wie het eintlik geskop? En waar? As toeskouer traak ons al hierdie vrae nie; as student van die kinematografie, of slegs as interesseerde, weet ons dat na-opnames gewoonlik in ‘n ateljee met beste fasiliteite plaasvind; heel dikwels vind buitetonele ook binne plaas voor ‘n groot doek met die buitetoneel daarop geskilder; egte buitetonele kan geleentlik by ‘n agentskap gekoop word waar duisende kortfilms of skote opbewaar wird. Dit kan wees dat die skoot met die geslaagde skepskop veertig, vyftig jaar gelede by ‘n spel tussen twee skole in Australië of Frankryk gemaak is. En dat die juigende „skopper” ‘n Foto-montage is, waarby twee films oormekaar afgedruk word.

[Einde van Deel 1, deel 2 volg binnekort]

©.31e.Januarie2018……☆ ✽ ☆………………………………..tje




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed