skets van my baai
Skets van my baai.
Op my sit-duin is dit lekker rustig vanaand. Mense kom en gaan langs die onrustige see, wat hom regmaak vir ‘n nuwe crescendo van spring gety vannag. Heel dag al het hulle gekom en gegaan. So asof die see môre nie meer gaan bestaan. Elkeen met sy brakkie aan ‘n lyn en balle vir kleintjies onder die arm vasgedruk. Dan baljaar dit heen en weer op die strand. Effens bang, meeste van hulle, want die water is maar koud hier aan die Weskus. Hier en daar waag ‘n jongetjie dit met sy branderplank onder die arm na die naaste golf. Met spring gety is die golwe mos onvoorspelbaar, en rol meeste gou weer op die sand uit.
Oor alles sweef my vriende die meeue in stille wysheid heen en weer. Soms swiep hulle neer om ‘n verdwaalde witmossel op te pik. Dan hang hul stil in die lug en laat die mossel val om oop te breek op die sand. Dan is daar ‘n geskarrel om te kyk wie is eerste daar. Nie veel gesteur deur die klomp vakansie gangers nie. Nou en dan skeer daar ‘n Albatros oor die baai, oppad na beter weiveld verder Suid. Soos gewoonlik sit pikswart slangnekke met uitgestrekte vlerke op die wit bemeste rotse wat soos geboue uit die see verrys. Op die strand, waar dit stiller is jaag klein strandlopertjies mekaar in wilde tog agter krappies wat skulpe soek.
My strand is waar die see blou lê en rustig geluide maak vir vannag se groot konsert. Dan gaan die perde jaag en nuwejaar met wit skuim bekke op die strand uit jaag. Die baai was weer vol vis vandag. Duisende meeue het op die water gesit en fees gevier. In sulke strepe honderde meters lank, het hulle gesit en eet, tot dit moeilik was om weer op te styg. Wanneer die laaste mensgeluide vannag huistoe gaan, sal die see sy musiek wyd oor die landskap uitstuur, sodat mens en dier weereens met ontsag daarna luister. Dan sal ek ook stil lê en luister na elke instrument wat sy deel doen aan die wonderlikste lied van die natuur. Hier en daar sal naguile die musiek beaam en ons wakker wagters van die veld, die kiewiete sal ons op ons tone hou.
Hopelik sal daar vanaand nie baie steurings kom van stadsjapies wat die nag wil kom versteur met hul sjinese simbale nie. Ons brakke ken nie hierdie vergrype van die natuur soos daar in die blink-vrot stad nie. Elke jaar is daar maar so paar. Soms selfs een of twee wat nie meer die sirkels kan navigeer oppad huistoe nie. Dan moet ons tuine dit ontgeld, en ook baie skade om saam terug te neem huistoe vir hulle. Die jammerste is natuurlik die skilpadjies en grysbokkies wat soms in die slag bly. Hulle kom betaal darem vir die lewenskoste van die besigheidsmense in vakansie seisoene.
Uit my rustige duine-nessie, wens ek elkeen maar weereens ‘n baie voorspoedige nuwejaar toe. Mag julle beste drome ook soos myne tot vervulling kom, en mag julle net gesondheid en voorspoed ken. Mag ons boere ook rustig en veilig voort kan gaan met hul God gegewe taak.
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.