
Rooi lippe
Kom ons praat bietjie vandag oor die befaamde rooi lippe.
Daar is soveel persepsies oor ‘n vrou met rooi lippe. Persepsies van mans oor vroue wat rooi lippe dra, en persepsies van vroue oor dames wat rooi lippe dra.
As ons nou by die mans se persepsies sal begin, die meeste van hulle verstaan glad nie hoekom dames grimering moet dra nie, en daarom staan hulle hare al reeds regop sodra hulle ‘n dame wat gegrimeer is sien. Maar kyk as daardie vrou dan nou nog bo-op die rooiste rooi lippe het, dan is hulle heeltemal in die war. En sal jy heel moontlik ‘n gebrom van ‘waarvoor moet die vrou haar so beplak’ hoor. Behoed die Vader as hierdie vrou nog sy eie vrou is, want dan sal dit seker meer so iets soos “vrou is jy nou heeltemal gek, hoekom is jou lippe so rooi?’ wees. Want het sy nie geweet dat ‘n vrou se plek in die kombuis, voor die wasbak, met kaal voete, of pantoffels en swanger is nie. So onopsigtelik as moontlik, net verantwoordelik om haar man en kinders gelukkig te hou. Glad nie om opsigtelik te wees nie. As sy miskien aan iemand voorgestel moet word is dit gewoonlik ‘hierdie is nou Jan, Koos of Piet se suster, of se vrou, of se ma’ – sy het mos nie ‘n naam of identiteit van haar eie nie.
Dan is daar die gene van die manlike geslag was as hul in een van hierdie vroue met die mooi rooi rooi lippe vasloop die eerste gedagte wat in hul opkom is ‘watse loskop vrou is dit hierdie, sy is definitief nie ernstig oor die lewe nie’. Kyk vroue moet mos faal, oninteressant wees, met dik raam brille om as intelligente of ernstig gesien te word – dit is nou die persepsie van sommige mans.
Verder kry jy die manne wat as hul in so ‘n pragtige rooi lip vrou hulself vasloop dadelik dink, ‘hel, dit is my gelukkige dag, want hier is ‘n poppie wat ek maklik kan bed toe sleep, so ‘n regte flerrie’, want geen ordentlike betaamlike vrou sal dit op straat waag met sulke rooi uitlokkende lippe nie.
Gelukkig is daar ook die moderne man, die een wat verstaan dat die kleur van ‘n vrou se lippe nie die enigste element is wat haar karakter of persoonlikheid of waarde bepaal nie. Die een wat nie geïntimideer word deur ‘n dame met rooi lippe nie. Wat weet dat rooi lippe verskillende gesigte het.
Hy weet dat die plekke en die omstandighede waarin hy hier die rooi lippe vrou ontmoet bepaal wat hierdie pragtige rooi lippe nou eintlik wil sê.
Wat is nou mooier as mooi rooi lippe? Daar is die dames van alle ouderdomme wat rooi lippe dra omdat hulle glo hulle is net te vaal, en het bietjie kleur nodig in hul lewe. En hoekom nie, as dit haar kan laat goed voel oor haarself, dit werk!
Dan is daar die dame wat net dood eenvoudig nie mee gelol wil wees op daardie dag nie, dan trek sy daardie rooi lippe aan soos ‘n oorlogsmondering en pas haar gesigsuitdrukking daarby aan, en glo vir my as jy voor haar tafel gaan sit, sal jy weet hier moet ek nou in my spoor trap, anders gaan die hare waai.
Gelukkig het die oorlogsmondering-rooi lip doedie ook ‘n suster, en sy is die vriendelike vrou wat van oor tot oor glimlag met haar pragtige rooi lippe, vol selfvertroue en behulpsaam – en niemand is bestand teen daardie rooi lip-glimlag nie, nie eers meneer ‘verkramp’ nie.
Dan is daar mevrou-die-voorsitster – sy moet dood seker wees dat almal om daardie redaksievergadering tafel – ook die mans wat glo sy het geen idee wat sy doen nie – na haar gaan luister. Sy is vriendelik dog saaklik en eg professioneel – haar rooi lippe is dit wat haar saam met haar persoonlikheid as leier net daardie ekstra hupstoot gee om te verseker dat sy ernstig opgevat sal word as sy daardie rooi lippe oopmaak. Dit sal beslis verseker dat almal se aandag op daardie rooi mond is.
Meneer en behoed jou as jy by jou eerste afspraak aankom met die meisie van jou drome, sy is reeds al so beeldskoon, en laat reeds al jou hart by jou kuiltjie uitspring, en as sy dan daardie voordeur oopmaak en daar staan sy in al haar skoonheid met ‘n paar sensuele rooi lippe – dan wil jy sommer alles wat almal jou oor gewaarsku het jy nie moet doen nie vergeet. Jy wil sommer net vorentoe storm en hierdie dame in jou arms neem. Maar nie so vinnig nie – sy wil maar net op haar beste lyk en dalk uitvind of jou karakter sterk genoeg is om te kan deel met ‘n pragtige rooi lip vrou, of jy haar respekteer vir wie sy is en nie vir die kleur lippe wat sy het en jou eie persepsies nie.
Daar is natuurlik ook die opregte rooi lip-verleidster, en sy sal geen geheim van haar motiewe maak nie, sy gee ook nie eintlik om of jy ‘n alleenloper of getroud is nie, as jy die arme man is wie sy as prooi gekies het kan ek net baie jammer vir jou voel, want jy sal nooit regtig weet wat jou getref het nie. Sy sal jou soos ‘n ‘black widow-spider’ in haar web kry en die einde voorspel niks goed vir jou nie. Maar as hierdie rooi lip verleidster jou eie vrou is, dan is jy natuurlik ‘n baie gelukkig en gesёende man wat altyd met ‘n glimlag op jou lippe sal loop.
Die pragtige ouer vrou, wat haarself goed opgepas het, met haar pragtige wit grys hare, vriendelike gesig en wonderlike persoonlikheid, met die wêreld se wysheid. Sy weet wie sy is en wat sy van die lewe wil hê, sonder om op enigeen se tone te trap. Sy dra daardie rooi lippe met styl, en aanvaar die komplimente wat sy daarvoor kry met grasie.
Die vroue daarin teen wat nie hul rooi gelipte ewe kniё kan hanteer nie, is maklik om te verduidelik. Hulle is of die vrou wat bloot nie gewoond daaraan is dat ‘n dame ook die ‘n reg het om haarself te versorg en ‘n plek in die samelewing in te neem nie. Of die vroue wat bloot net geen ander vrou as pragtig en haar gelyke wil erken nie, die vrou wat bedreigd voel omdat haar man haar minderwaardig laat voel, die vrou wat weet hierdie rooi lip vrou gaan dalk haar huwelik kos. Meeste van die tyd net pure afguns en jaloesie op die ander vrou.
Vir daardie vrou kan ons maar net jammer voel, soos ons maar moet meegevoel hê met die lede van die manlike geslag wat gee idee het hoe om selfversekerde, intelligente rooi lip vrou te hanteer nie.
Rooi lippe het vele persoonlikhede en gemoedstoestande. En al is daar ‘n menigte dames wat glo omdat hulle vel te wit is, omdat hulle te jonk is, omdat hulle te oud is, omdat hulle rooi hare het, omdat hulle volgens hulle eie selfbeeld nie beeldskoon is nie, en vir ‘n legio ander rede kan hulle nie rooi lippe dra nie, wil ek jou vandag uitdaag, om te waag. Koop die rooiste mooiste rooi lipstiffie. Sit dit aan en jy sal verras wees oor wat dit vir jou sal doen. Dit kan dalk net jou lewe verander vir die beter.
‘n Groot ‘high five’ as jy reeds een van die dames is wat jou rooi lippe met styl dra soos die geleenthede hul voordoen.
Of jy nou die baas of klaas is, of jy nou die vaal vrou is wat niemand ooit raak sien nie, of die pragtige rooikop vrou, die ouer dame, of die vrou wat net ‘n turbo-boost vir die dag nodig het vir een van vele redes.
Mevrou, dame, jongvrou hier is jou kans – ek daag jou uit om te waag!
©Marsofine Krynauw
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
Uitdaging aanvaar. Sonder lippe is ek swak.