Sandloper (brons)
kersfees ligte
flikker nog in
Julie maand
rooi en blou
en groen
tart Desember
se nag kapsule
opsiersels vergaar
nou stof
helder kleure is
vaal gekyk
op onvoldoende
bewyse word
die dief blameer
wat klippe van
‘n straatkat se
graf af gesteel
het
bloeddorstig word
bystanders ongemaklik
gemank
soos gister se witleuns
wat saggies tik
op gewete se geswete
skouer
die wit hasie is nou
gebreek en al wat
nou vertroetel word
is splinters onder
die vel
só skyn ‘n bleeklamp
op volgende jaar
se amber oog
jaarend is weer
amper hier en die
uurglas aan’tloop
uur-na-uur-na-uur
©Louw-Marie Sauerman 2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek