Tyd se trane.
Tyd se trane.
Die eerste traan het onverwags oor Lien Meiring se wang gerol – ’n enkele, stil blink druppel wat soos ’n klein kraaltjie op haar skoot beland het. Die kamer om haar was stil, die geluide van die buitewêreld gedemp deur die dik gordyne wat liggies in die briesie beweeg het. Die enigste klank was die sagte tik van ’n horlosie, soos ’n gedempte herinnering aan tyd wat onverpoos voortbeweeg. Verward het sy haar hand na haar wang gelig, asof om te bevestig dat die traan werklik was, dat hierdie onverwagte uitdrukking van emosie nie bloot verbeelding was nie. Sy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, net soos ’n somerreën wat skielik oor ’n dorstige land uitsak. Daar was geen waarskuwing, geen vooraf gevoel nie. Net die klam, koel sensasie van emosie wat haar oorweldig het.
Lien het grootgeword in ’n klein dorpie, waar haar ma, Fonnie, ’n bekende en geliefde figuur was. Fonnie was ’n onderwyseres, bekend vir haar sagte hart en wysheid. Sy het altyd tyd gemaak vir Lien, al was haar dae vol met skoolwerk en gemeenskapsprojekte. Hulle het ’n spesiale band gedeel, een wat gebou was op liefde, respek en ’n diep begrip van mekaar.
“Hoekom nou? Waarom juis nou?” het sy in stilte gevra terwyl sy die vreemde gewaarwording probeer verstaan het. Die laaste keer dat sy gehuil het, was toe sy haar ma begrawe het, al jare gelede. Die pyn het toe ook diep gesny, maar sy het haarself belowe om sterk te wees, om nie te veel toe te gee aan die verdriet nie. Maar nou, hierdie een traan… dit was asof iets in haar losgebreek het.
Skielik het die herinneringe soos ’n donderstorm oor haar gespoel. Die kamer waarin sy gesit het, het eens gevoel soos ’n veilige hawe, maar nou het die mure begin druk, die skaduwees langer en kouer. Die laaste keer wat sy haar mammie se sagte hand vasgehou het, die bed in die hospitaal wat nou leeg en koud is, die huis wat stil en hol is – ’n stil graf van verlore geluk. Sy het haarself gesien as ’n klein dogtertjie, veilig in haar mammie se arms, terwyl hulle saam na die reën buite geluister het. Die geur van nat grond, haar ma se stem wat met kalm wysheid die reëndruppels gelykstel aan hemelse seëninge. Die laaste keer wat sy haar mammie se hand vasgehou het, was ’n laaste troos in die koue wit bed van ’n hospitaal.
Die trane het nou soos ’n rivier begin vloei, onstuitbaar, elke druppel ’n weerspieëling van ’n verlore geluk of onvoltooide beloftes. Sy het hard probeer om haarself in te hou, maar die herinneringe was te sterk. Sy het gewens sy kon die tyd terugdraai, nog een keer haar ma se stem hoor, nog een keer haar liefde voel.
“Mamma,” het sy saggies gefluister, maar die naam het in die wind verdwyn, net soos haar ma.
In daardie oomblikke het tyd vir haar stil gestaan. Die koel herfswindjie het deur die oop venster gewaai, maar sy het dit skaars gevoel. Al wat sy kon voel, was die nat spoor wat die trane oor haar vel gemaak het, soos ’n stil aanklag teen die verdriet en leed wat sy gedra het. Maar te midde van die hartseer, het sy ook iets anders begin voel – ’n diep, stil vrede.
Die herinneringe het haar weerloos laat voel, maar hulle het haar ook getroos.
“Miskien, net miskien, is dit nou tyd om te laat gaan,” het sy by haarself gedink. Die trane het haar gesuiwer, die donkerte uit haar gemoed weggespoel en nuwe lewe in haar siel gebring.
“Mamma, ek is reg,” het sy gefluister, “Ek is reg om weer lief te hê, om weer te leef.”
Terwyl die laaste trane opdroog, het Lien se hart met ’n nuwe energie begin klop. Die atmosfeer in die kamer het gevoel asof dit skielik ligter geword het, die son se strale wat skaam deur die venster glip en die stofdeeltjies in die lug laat dans het. Die koue van die herfswind het skielik nie meer so skerp gevoel nie, asof die wêreld saam met haar asemhaal, gereed om ’n nuwe begin te omhels.
Sy het opgekyk na die kobaltblou lug, die wolke het stadig beweeg soos die strome van haar gedagtes, en die vars reuk van die herfsblare het haar in die oomblik geanker. Haar hart het ligter gevoel, haar siel gereed om die vreugde van die lewe met ope arms te omhels.
“Mamma, ek is reg om weer lief te hê,” het sy in haar gedagtes herhaal, asof die woorde self die helende krag het om die seer in haar binneste te herstel. Daardie oomblik van besluit was nie net ’n losbreek van haar verdriet nie, maar ’n aktiewe keuse om haar lewe met nuwe liefde en hoop te vul.
Sy het haarself gesien in ’n wêreld waar elke dag ’n kans is om liefde te ontdek en uit te deel. Met die kobaltblou lug bo haar, het Lien besluit om ’n dieper waardering te hê vir die klein vreugdes in die lewe.
©MarleneErasmus
(850 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek