seisoene
seisoene
appelwang en poniestert
dartel sy deur haar lente
kommervry en sonder vrees
jonk van liggaam én van gees
haar bloeisels bot
en haar granaatboom blom
soos haar rypheid nader kom
drome gedroom en sterre verskiet
sy wieg op die maat van ‘n liefdeslied
die aanbreek van die somer
bring volheid na die dromer
terwyl sy haar vrugte dra
sy groei en rank en beur na bo
leer en werk en glo
sy leef in die son
en dans in die reën
is lief vir almal aan haar geleen
haar lyf is sag en groen
sy doen wat ‘n vrou moet doen
gebaai in geel en goud
met takke steeds wyd gesprei
begin haar blare stadig val –
herfs het haar kom kry
haar nes raak leeg
maar haar siel is vol
soos die lewe aanbeweeg
die tyd het gekom om te laat gaan
terwyl sy nog diep geanker staan
koue kom oor die rante aan –
slierte van silwerwit
wat diep in haar kom sit
sy glimlag wanneer sy onthou
haar pad van toe tot nou
sy het geleef en sy het geleer
dat niemand tyd kan keer
die herinneringe is goed
en sy dwaal dikwels dáár
waar sy na haar onthou gaan soek
maar in die ryptrap
van ‘n winterlandskap
vind sy ware vrede
in die seisoene van haar lewe
© Hester Steenkamp
2 Kommentare
-
Seirdna
Mooi gedig Hester
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2022 Winterlandskap projek