Skoppelmaai
Draai swaai skoppelmaai
speel hy met haar hart
wielie-walie rondomtalie
reguit na haar smart!
Sy weet sy’s net n speelparkie
waar hy sy tyd verdryf
vandag vól opwinding
môre eenkant toe geskuif.
Vandag is sy die ás
waarom sy wêreld draai
die greep aan die trapeze-tou
waaraan hy veilig swaai.
n Klimraam vir sy ego
foefie-slide na sy geluk
Raak hy moeggespeel
word sy môre weer stil-stil
die hangkas ingedruk!
Sy weet hy is geen traan werd
die einde is
lankal reeds in sig
soos n vuilgevatte veerperd
bly sy steeds hoopvol
en hardkoppig wag op niks!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.