Somersnagte
ademloos hang die lug
– stil en dik en warm –
in die donker nag
geen wind wat roer
geen ster wat deur
die blare vir jou loer
swart wolke sloer
– lui, geluidloos, swanger –
swewend deur die donker lug
prentjies geskets in
geel en pers en silwerig
deur die maan se dowwe lig
weerligstrale in die verte
– sekondes van satyn –
wat die hele veld verlig
die bome weerloos afgeêts
biddend met hul arms
na die hemele gerig
‘n enkele paar druppels
val lui-lui op die dak
om net weer stil te raak
in die nog stiller nag
die hitte selfs nog dikker
wyl ek op uitkoms wag
Estelle Rubow
25/02/2017
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carla Visser
Baie mooi gepen Estelle. Ek kan myself skoon inleef in die beeld wat jy skep!