Jongste aktiwiteit:

Speeltyd is verby

Die ander Vrydag namiddag sit ek en vriend D’em oor ’n koue Germaanse bruisdrankie die dinge van die dag, die week en sommer wat ook al aan die orde is, en gesels. Dit is nogal eienaardig en steurend opvallend hoe die gesprekke deesdae doelbewus die politiek en die kerk en die ekonomie probeer systap.

Een duistere onderwerp wat daar êrens tussen die einde van die eerste glasie en begin van die tweede sy opwagting gemaak het; die bendes. Vir die gereelde nuusleser en -kyker of aanhoorder is dit sekerlik geen vars publikasie om weer te hoor van die bendegeweld wat die Kaapse vlakte ruk en wat selfs Gauteng laat steier nie; almal weet daarvan en almal wat kán, vermy die gebiede waar die skietery op onskuldige mense meer gereeld as op brandsiek honde plaasvind.

Soos ek êrens al vantevore genoem het, is misdaad hier nie ’n oorlewingstegniek nie, dit is ’n loopbaan. ’n Loopbaan wat gevorm word vanaf die kleinkindjare. ’n “Werksdag” wat begin deur die eerste treksel tik in te kry en dan die pad te vat op soek na iets en alles wat ge-aas en indien nodig, gesteel kan word om te gaan verkwansel of te ruil vir die volgende treksel. Hier breek die tieners helder oordag by fabrieke en motors in, sonder vrees vir vervolging. Die dryfkrag van ’n ekonomie en maatskaplike stelsel wat hierdie “loopbaan” bevorder, laat al hoe meer onskuldige ledige kinders bende-misdadigers word.

Dit is teen húlle wat die weermag ingespan wil word en dit is teen die sigbare gevolge van hierdie verlore volk, wat die dienaars van die gereg die bresse slaan.

Daar is egter ’n lyf aan hierdie “seekoei” se ore, wat baie min van ons egter wil weet. Die meeste leiers van die bendes, wat amper onaantasbaar die misdaad-ekonomie van die Kaapse vlakte uit die gerief van hul luukse wonings bedryf, doen dit op jou en my voorstoep in die sogenaamde middel- en hoër inkomstegroepe se veilige woonbuurte. Erger nóg, die bendemanne dra nie almal meer “hoodies” en holhang-jannas nie, nee meneer, die bendelid in jou buurt kan jou buurman in ’n netjiese snyerspak en mansjetknope wees; die ou wat vriendelik vir jou waai wanneer sy donker Duitse viertrek oorkant in die oprit indraai …

Alhoewel ek nie graag die ware van my dagtaak oral ontydig uitstal nie, het ek tog besluit om hierdie stukkie nikswerd nuus ook te deel: die glimlaggende amper oor-vertroostende gesig van ’n man met ’n mantel en ’n groot goue kruis oor ’n deftige pak met blink spitspuntskoene, is soms nie die geroepene, apostel of profeet van die verlossing wat die soekers na geestelike genesing in gedagte het nie.

As ek ’n hoofstuk moes skryf vir elke kerk wat by ons aansoek doen om ’n perseel te huur en elke les wat ons met die verhuring aan kerke met lewende leidende handeswaaiende glimlaggende apostels en profete geleer of dalk nié geleer het nie, dan sou dit ’n studiegids vir sosiopatie kon vorm!

Dit is eienaardig hoe ’n mens ná die tyd eers uitvind dat die blink en Bybelverse die masker van bendebedrywighede was; dat die perlemoensmokkelaars en taxi-eienaars nie net Sondae die woord met trane vir kollektes kon bedien nie, maar gedurende die res van die week bidure met bendevergaderings kon afwissel!

Sonder om te oordeel, voel dit tog vir my of iemand wat tot al hierdie dinge in staat is, nie behoort te sukkel om ’n moeder agter haar voorskoolse kindjie dood te skiet nie; geld en mag en gebied …

Agter Leeuwspruit Primêre Skool in Sasolburg, ’n dorp wat brandstof maak, was daar eens ’n stroompie van ’n modderige spruitjie met ’n paar wilgerbome wat plek-plek skuins teen die walle van die spruit geanker was en voordat Topsy Smith se bekende Trompie en die Boksombende op televisie sou begin draai, het ons reeds ’n bende in die vaal wintergras van hierdie werkersklasdorp staangemaak. Ek en Pieter en Japie en Jan-snotneus was, sover my geheue wil werk, ’n bende.

Ons het nie geld gehad nie, maar wel fietse en ons het nie gebiedsmag gehad nie, maar ons het wel dryfings met moddergooi gespeel en … daar was geen meisies nie.

Die ander dag verklaar ’n sekuriteitswag, op die voorstoep van die gebou wat hy moet oppas, “dit smaak my die speeltyd is verby”, en in terugblik wonder ek nou of hy werklik besef hoeveel waarheid hy met sy sewe woordjies oopgebreek het, want langs die strate waar ek bedags ry speel selfs die klein kindertjies nie meer nie.

Hulle en die volwassenes sit en staan rond sonder doel of heenkome en moontlik, so sonder dat hulle dit beplan, sal een van hulle die nuwe leier van ’n bende word en moontlik, met genoeg bende-prestasie op sy kerfstok, sal hy die sypaadjiestof en rondloperhonde vir die warmte van ’n veilige woonbuurt vol misdaad kan verruil en sal hy ook êrens op ‘n Sondag sy hande kan saamslaan en met ’n knipoog sê, “Dankie Here”.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed