
Stofberg – ń Lappie dorre aarde
Mamma was slegs vyftien
die jongste skaars twee
tussenin nóg sewe
wat ouma kos moes gee.
Oupa het haar nagelaat
met nege monde om te voer
op ń plaas wat smag na water
moes sy alleen op boer.
Soos die watervlak gedaal het
het armoede gestyg
met ń tweeskaar ploeg het sy
deur wintersknou en somer
agteroor gebuig!
Tesame met die water
het die geld ook opgedroog
hulle broekies en bra’s
moes sy uit meelsakkies optoor
In ruil vir lap en gare
het sy snags tot laat gebak
Die linte in hul hare
is van oorskietlap gemaak.
Liefde was daar in oorvloed
pap en kaiings ook
Met pampoenskil en marog
is koningskos mee gekook
Op haar lappie dorre aarde
haar hande, nerf-af gewerk
vir meer stof as genade
en ń tiende vir die kerk
Moed was nooit verlore nie
sielskos het haar gevoed
kla nie deel van haar woorde nie
God was altyd vir haar goed!
Haar woorde steek nog vas soos gister…
“Al lê armoede en swaarkry
so wyd soos die distik
kan jy met vertroue, geloof en hoop
swaarkry se angel
by sy strop afruk.”
2 Kommentare
-
Cornien
“Al lê armoede en swaarkry so wyd soos die distik kan jy met vertroue, geloof en hoop swaarkry se angel by sy strop afruk.” 'n Sterk vrou gewis .... mooi verwoord en werklik in tyd vas gevang!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Elroux
Pragtige nostalgiese gedig