Herinnerings-tuin
Pa, al is jy nie meer by my
is ek nie sonder jou
jy wat ‘n verskil wou maak
het my nie wees laat staan
jy leef voort in jou saad gesaai
plante in jou herinnerings-tuin
ons, jou geelhoutbome
geplant as saailing
staan net soos jy trots en fier
in ‘n kleed van nuwe groen
groei ons tot groter hoogtes
vir ‘n nuwe seisoen
spatsels omgee-blomme mildelik gesaai
versprei hul lieflike geure
groei soos kosmos om elke draai
‘n verrassing van bonte kleure
herinnering aan ons vreugdes-ure
bloei tot diep in my hart
Pa, jou koelte-hoekie
Met koel poele van laafnis
gevul met helende water
vir al wat seerkry-mens is
waar blomme tussen dorings blom
waar die swerwer huis toe kan kom
Maar dan is daar jou bosveld-hoekie
omring met sisal
waardeur niemand kon dring
hier het jy jou alleentyd
in die natuur
met jou God deurbring
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.