Stryd sonder beleid
In die son en die wind se gemaal,
staan die lande onbewerk en kaal;
tussen die massa verdwyn jul taal,
geskiedenis gaan homself herhaal.
As die son aarde so skroei en brand,
met oues van dae kort van verstand,
vervaag wysheid, verpand vir ‘n rand;
antwoorde is skaars vir jul vaderland.
Julle kla, julle sweet en julle roep uit;
wyl julle Hom uit julle lewens uitsluit,
en die stryd wil veg sonder ‘n beleid,
vra julle”Is die belofte die waarheid?”
Gister is lank gelede verby; ‘n prentjie,
wat voortbestaan saam met ‘n liedjie;
verleë, maar julle sê die woorde nie,
HERE help ons, ons het nie raad nie.
24/05/2017 © C. du Plessis
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Dankie Casper ek geniet altyd jou werk baie