Jongste aktiwiteit:

TSOENAMIE

Kento voel die trilling onder sy sitvlak waar hy in hul woonstel op die sestiende verdieping van ‘n wolkekrabber speel. Vraend kyk hy na waar sy ma besig is om wasgoed op te vou.
“Het Mamma dit ook gevoel?” wil hy met groot oë weet.
“Ja, maar vergeet dit. Dit was seker ‘n aardbewing. Sit jy net doodstil.”
Kento ignoreer sy ma se vermaning en hardloop met vlugtige voete venster toe.
“Mamma! Mamma! Kyk!” gil hy vreesbevange.
Lee spring op en hardloop venster toe. Beangs sien sy die muur water wat reeds die eerste wolkekrabbers bereik het. Hulle breek op soos speelgoed. Sy weet sy kan nou niks doen nie, behalwe om te bid.
“Kento, kom ons gaan sit in die kamer.”
Sy kry hom aan die arm beet en sleep hom behoorlik saam met haar. In haar sak voel sy die gewig van haar selfoon. Weet haar man van die tsoenamie wat Japan weer getref het?
Haar vingers moet die nommer twee keer tik in haar haas. Eindelik hoor sy die geliefde stem.
“Het jy gesien wat besig is om te gebeur? ‘n Tsoenamie is in aantog. Waar is jy?” wil sy gespanne weet.
Terwyl hy met haar praat, sien hy waarna sy verwys. Sy hele lyf word styf van spanning.
“Ek gaan nie betyds by julle wees nie. Lee, die water is op my. Ek het jou lief. Probeer veilig wees.”
Die foon word stil en Lee begin huil. Sy weet nie of sy haar geliefde man ooit weer gaan sien nie. Kento sit sy hand op haar arm en laat sy koppie in haar skoot sak.
“Liewe Jesus, iets vreeslik is besig om te gebeur. Help ons asseblief.” Bid hy sommer hardop.
Lee voel hoe die gebou onder haar beweeg en sy sluit haar oë. In haar hart beaam sy haar vier jarige seun se woorde. “Help!!”
Dan is dit asof die hel losbars. Sy hoor die gedreun van baie waters voordat die gebou stadig begin kantel. Haar arms sluit styf om haar seun. Magtelose trane loop oor haar wange.
“Here, sonder U sal ons verseker nie oorleef nie.”
Kento voel hoe sy ma se arms om hom losgaan en hy roep verskrik, tevergeefs. Hy is alleen. Verskrik knyp hy sy ogies toe. Die vrees in sy kinderhartjie wil hom versmoor. Sy hande gryp in die lug na iets om vas te hou, maar daar is niks.
Beton val op hom. Skielik is daar ‘n teenwoordigheid. Hy verstaan dit nie.
“Sit jou arms om My nek, Kento.”
Hy hoor die stem en gryp die Persoon om sy nek.
“Moenie bang wees nie. Jy is nie alleen nie.”
Met ‘n vreesbevange sug druk hy sy kop teen die sagte bors. Sy ogies val toe en hy slaap. Hy voel nie hoe sy liggaam die water tref en hy ver meegesleur word nie. Hy voel nie hoe sy liggaam ‘n hele paar keer teen motors en geboue bots nie.
Baie ure later word hy wakker. Daar is chaos om hom. Hy sien motors wat op ‘n hoop opgestapel is. Baie bome is ontwortel en daar is geen hoë geboue nie. Rommel lê die wêreld vol. Tog is daar geen vrees in sy hart nie.
Stadig staan hy op. Hy vee die blare en gemors van sy klere af. Hy weet net een ding. Hy moet sy mamma vind.
Sy donker ogies kyk om hom heen om te sien waar hy is, tog bly sy voete beweeg. Hy loop reguit na die gebou waar hulle gewoon het en wat nou stukkend op die aarde lê.
Vir die eerste keer raak hy bewus van die mense om hom. Hulle huil en skreeu. Hulle krap in die rommel rond vir geliefdes. Sy lippie begin bewe.
“Jy is nie alleen nie, Kento. Soek jou mamma.” Hoor hy die sagte stem in sy oor.
Soos ‘n klein robotjie begin hy weer aanstap. Sy ore sluit vir al die geluide om hom. Dan begin hy haar roep. Eers saggies dan al harder.
“Mamma! Maammaaaa!”
Om hom roep nog mense na hul geliefdes maar hy hoor dit nie. Die vrees in sy hartjie begin groei. Waar is sy mamma en waar is sy pappa? Angstig sak hy langs die bourommel neer. Sy handjies raak besig terwyl hy aanhou roep.
Hy voel stewige hande om sy skouers maar hy kyk nie op nie.
“Wat is jou naam? Na wie soek jy?”
Hy kyk op en sien ‘n vriendelike polisieman langs hom op sy hurke sit.
“Ek soek my mamma.”
“En wat is jou naam?” vra die polisieman weer.
“Kento.”
Die polisieman kyk hom simpatiek aan. Baie kinders is opsoek na hul ouers. Maar iets aan hierdie seuntjie gryp hom aan die hart.
“Ek gaan jou na die tent neem waar nog mense is. Kyk of jou mamma daar is.”
Onwillig kruip sy hand in die groot hand van die polisieman. Sy ogies dwaal oor al die gemors om hom. Dan sien hy ‘n rooi kledingstuk. Dit is sy ma.
“Daar’s sy! Daar is my mamma!” gil hy en ruk los uit die polisieman se sagte hand.
Hulle twee hardloop na waar die rooi materiaal uitsteek. Die persoon is begrawe onder ‘n spul rommel. Kento werk net so hard soos die polisieman. Hulle grawe tussen stukke beton en grond en eindelik lê die persoon voor hulle.
“Dis my mamma!”
Kento spring op en af van vreugde. Hy sien nie die polisieman se strak gesig nie. Versigtig ondersoek hy haar en sug dan verlig. Hierdie vrou het dringend aandag nodig. Op daardie oomblik kom paramedikusse met ‘n draagbaar nader.
“Kom help hier, hierdie vrou het hulp nodig!” roep hy hulle nader.
Kento kyk na sy ma. Sy beweeg nie. Saggies vat hy haar hand en druk ‘n nat soen op haar palm. Dan vou hy haar hand toe soos sy altyd met hom maak. Hy bly aan haar sy tot by die tenthospitaal. Daar gaan sit hy op die bourommel en wag.
“Liewe Jesus, help asseblief my mamma. Ek weet ook nie waar my pappa is nie.”
Hy prewel die gebed maar die vrou wat langs hom sit hoor dit. Saggies vat sy die kinderhand. Sy weet nie tot wie die kind bid nie, maar sy bid saam met hom. Later sluit die polisieman weer by hom aan. Hy hou ‘n stukkie brood na hom uit.
“Hoe gaan dit met jou mamma?” vra hy belangstellend.
Kento vat ‘n groot hap van die brood en kou hongerig daaraan. Hy trek sy skouers op. Trane brand in sy ogies.
“Niemand het nog kom sê nie.” erken hy.
“Wag hier dan gaan hoor ek gou. Bly net hier sit.”
Die vriendelike polisieman verdwyn in die tent. Kento eet hongerig aan sy brood terwyl sy ogies vasgenael bly op die opening van die tent.
Hy wag lank want daar is baie beseerdes en daar word al meer en meer mense ingedra. Hy soek tussen die beseerdes totdat hy die rooi rok herken. Die vrou het baie seer gekry maar sy is by haar positiewe. Toe sy hom sien, lig sy haar hand om sy aandag te trek.
“My seuntjie, Kento. Ek weet nie waar hy is nie.”
Die polisieman moet sy kop naby haar lippe hou om te hoor wat sy sê. ‘n Traan drup op die laken en sy hart gaan uit na die vrou.
“Goeie nuus, Mevrou. Jou seun wag hier buite. Dis hy wat jou gevind het.”
Hy draai om en stap vinnig na waar die seuntjie saggies sit en huil.
“Kom, Kento, ek vat jou gou na jou mamma toe.”
Sleepvoetend stap hy saam tot hy sy ma sien. Sy lig haar hand toe sy hom sien. Die gebaar sit vlerke aan sy voete. Asof hy weet sy het seer gekry, laat hy sy kop saggies op haar bors rus. Trane van vreugde maak spore op hulle vuil wange.
Lee lig haar oë om die polisieman te bedank, maar hy is reeds weg. Saggies streel sy oor Kento se swart haartjies.
“Jy sal nie hier by my kan bly nie, Kento. Hier gaan nou nou mense kom om na jou om te sien. Sodra ek beter voel, kom haal ek jou.” belowe sy.
Langs hom staan twee vrouens. Hulle gaan na hom omsien in ‘n gebou waar baie kinders reeds gehuisves word. Soet stap hy saam nadat hy hartroerend van sy ma afskeid geneem het.
Onverwags verskyn die polisieman langs haar bed.
“In watter gebou was jou man toe die tsoenamie ons getref het?” vra hy met sagte oë.
Lee kyk dankbaar na hom. Sy gee al die inligting aan hom en sug dan pynlik.
“Baie dankie vir alles wat jy vir my seuntjie gedoen het. Ek is baie moeg en wil ‘n rukkie slaap.”
Simpatie skyn sag uit sy oë. Saggies vee hy oor haar voorkop. Dan wuif hy en stap fors en regop na buite. Hy verdwyn in die nag.
Die hele nag is daar uitroepe van vreugde of van diepe droefheid hoorbaar. Daar is nie ‘n oomblik van stilte nie. Die geheimsinnige polisieman stap reguit na ‘n hoop bouval en begin stukkie vir stukkie verwyder. Onder die hoop rommel lê ‘n verbryselde man. Dood. Kento se pappa. Die lyk word voor die hospitaaltent neergesit.
Hy haal die trouring af. Hy moet mooi werk om die identiteits dokument uit die man se sak te haal. Hy vee die stof af en stap na waar Lee onrustig rondrol in haar slaap. Saggies om haar nie te steur nie, plaas hy die ring en dokument langs haar neer. Hy weet sy sal verstaan.
Sy laaste draai is by Kento waar ook hy rustig slaap. Sy magie is gevul en die kussing is sag. Saggies fluister hy ‘n paar woorde in sy oortjie en geluidloos stap hy weg. Hy verdwyn in die niet om nooit weer gesien te word nie.
‘n Maand na die tsoenami stap Lee en haar seuntjie na waar die see rustig teen die rotse breek. Hulle gaan sit op een van die rotse.
“Mamma, waar is die oom polisieman wat my gehelp het?” vra Kento nuuskierig.
“Ek het hom nooit weer gesien nie. Ek glo dis hy wat pappa se ring en dokumente gebring het.”
‘n Verlate traan val op hulle hande.
“Dink Mamma nie dis liewe Jesus wat ons gehelp het nie?” vra Kento ernstig.
“Ja, ek dink dit was ‘n engel. Hy het jou vasgehou toe ons gebou geval het. Ek is so bly ons behoort aan ‘n lewende God. Hy is so lief vir ons.”

©Wilma




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed