
TWEE RY MODDERSPORE
My bakkie volg die twee ry modderspore
terwyl die koud in my stagneer tot ys
en laasnag se yspotloode modderplasse inkleur
met glinterglas
Al met die bergpad se twee ry modderspore langs
gaan soek ek die winter se stoorkamer
waar hy kapokgoingsakke verkoop
aan die wolke met hul gehuurde siffies
Ek stop en kyk die sneeu tornado agterna
terwyl hy oor die kransrand draf met sy wit ysstofstert
en die wind hom hokslaan waar sy bevrore ankervingers
oor die opgeysde krake in die kranse gly
Ek krimp koud in die voue van my flenter somersbaadjie in
en volg die twee ry modderspore
tot by die pomphuis se geroeste draadhek
waar die ys soos wolwetande vir my lag
…Ek sal môre weer
met die twee ry modderspore die pad afry
en hoop ek kry die koud in my verkoop…
4 Kommentare
-
-
Viooltjie
Ek geniet dit om jou gedigte te lees. Ek sien ander plekke en deur ander oë. Goed gedoen :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Ek is mal oor hierdie een, mens kan die prentjie voor jou oe sien afspeel