
. . . van brood alleen
agter koue mis se newels
word die son ‘n silwer bal
teen die hemel, tussen wolke
wat swerf en kleur in duifgrys
tot die edeltint van staal
my jas is dik, my stewels bruin
oor my skoot lê ‘n kombers
teen die vlootblou van my denim
skakeer ‘n trui in lilla,
violet en lintblompers
ek’s bly oor die Kaapse winter
met sy Noordweswind en weer
en hier – waar eens ‘n vleiland was –
vloei waters soos riviere
verby sypaadjies, oor teer
my houthuis het ‘n blink sinkdak
waarteen druppels klett’rend slaan
op dese plek (waar ek nou skuil)
het lelies wit – vervloë –
eeu’lank in die vlak gestaan
hoe warm vlam die paraffien
teen my hand en my gemoed
in leemtes tussen skamel woord’
rus nou ‘n stille vrede
is storms eind’lik uitgewoed
soos ééns staar’k deur skemer ruite
buite stroom die milde reën
deur ‘n grou wolk vliet ‘n sonstraal
die oomblik is (vir my) genoeg
dié vrou kan leef
. . . van brood alleen
© C. Shaw
3 Mei 2016
4 Kommentare
-
neels
Sjoe carna op haar beste
-
Evelyn van der Merwe
Besonderse teenstrydigheid uitgebring in jou slotvers. Mooi gepen.
-
Kiekies
.....en daai vrou kan, in haar dig-woorde, dit meer aanloklik laat klink as 'n vyf gang maal in fyn porselein!!! Nie mooiste prentjie vorm in my kop as ek lees: my jas is dik, my stewels bruin oor my skoot lê ‘n kombers teen die vlootblou van my denim skakeer ‘n trui in lilla, violet en lintblompers
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
PUIK!!!