Jongste aktiwiteit:

Vark op die strand

Vark op die strand

In Tanzanië was Sondag gewoonlik strand-dag, net ná kerk. Ons het sommer die strandgoed ingepak en onmiddellik ná die kerkdiens gery om die res van die dag luilekker te baljaar en te ontspan. Een van die gewildste en veiligste strande, was South Beach, net so vyftien minute se ry suid van Dar es Salaam, nadat jy met die veerboot die riviermonding oorgesteek het.
Die hawestad van Tanzanië, Dar es Salaam, is by die mond van ‘n rivier, maar die hawe self is ‘n entjie in die rivier op, want die rivier is wyd by die hawe, maar die monding is baie nou, ongeveer een kilometer. Om oor die riviermond te kom, is daar ‘n veerbootdiens met twee bote wat aaneen heen en weer vaar en mense, goedere en voertuie van een kus na die ander karwei. Mens ry sommer net so op die veerboot en sit geduldig en wag tot jy aan die anderkant weer afry en jou reis na die suide voortsit. Daar is geen rede om uit die voertuig te klim nie en die koste verbonde aan die reis is minimaal.
Soos gewoonlik, het ons al die vorige aand die nodige vleis en slaaie en eetgerei ingepak, die braaiertjie, net groot genoeg vir ses varktjoppies, en die emmer houtskool is gelaai, die kampstoele ook en die nodige keelnatmaakgoed is tussen die yspakke gepak en die nodige sonbrandroom is tesame met handdoeke en balle en al die ander stranditems in verskeie mandjies gepak. Al’s is gepak en gereed en die seuns se saamneemgoed is uitgesoek, van nodig tot onnodig, en dié is ook ingepak.
So ry ons dan na kerkdiens deur die stad tot by die veerboot, waar ons gewoonlik so vyftien of twintig minute wag. Om die seuns te paai word roomyse aangekoop en die strandgevoel begin dan sommer ook daar op ons toesak. Op die veerboot verwonder ons ons aan al die voetgangers, honderde mense wat sommerso tussen die voertuie staan en selfs op buffers sit, met al hul goed in sakke en emmers. Ons moet dan ook ‘n oog hou oor alles op die die bakkie, want hier word jy gou besteel. Dikwels het my oudste seun sommer agterop gaan sit en in Swahili, met huidjie en muidjie gesels oor hul koeie en familie en dies meer.
Op die stand aangekom annekseer ons ‘n “banda”. Dis nou ‘n afdak op pale wat met palmtakke bedek is. Die kante gaan tot amper op die grond, maar die voorkant is oop na die see en ek trek gewoonlik die bakkie se agterkant tot teenaan die oop agterkant, sodat ons die laaiklap sommer as tafel kan gebruik vir die nodige opskep en neersit. Die manne weet ook waar die stoele moet kom, waar die koeldranke en ander lafenis moet staan en waar die braaier opgestel moet word. Dis nie lank nie of hulle baljaar in die warm seewater en die varktjoppies braai rustig onder my wakende oog terwyl my vrou rustig sit en die uitsig geniet.
As al’s gereed is, roep ons die manne nader en elkeen kry sy ete, tesame met drinkgoed en word gemaan om klaar te eet, want as hulle iets laat oorskiet, gaan ek dit self opeet. So verseker ek dan dat my seuns al hul kos eet en gesond lewe, en dat ons maar die eetgerei kan wegsit, want as ons klaar is, is ons klaar. Gedurende die middag word daar op stoele gesit in die skaduwee van sag wiegende palmbome, in die water gesit, op stoele in die water gesit en dan word daar sommer ook met almal gesels. Daar’s baie ander buitelanders op die strand op Sondagmiddae en mens kan lekker kuier as jy wil.
So sien ons dan ons vriendin wat ‘n Ethiopiese restaurant in die stad besit, en ons gesels oor haar planne om ‘n soortgelyke restaurant in Kaapstad, ons tuisstad, oop te maak. Dan gewaar ons die Franse, gereelde strandgangers, met hul pragtige “Great Dane” wat so spelerig in die water is dat dit altyd vir die seuns ‘n plesier is om haar rond te jaag of deur haar gejaag te word.
Nadat hulle ons gegroet het en met die seuns gesels het, sien ek weer Duitse vriende en ons gaan sit bietjie by hulle om te gesels oor die helikopter wat hy vlieg en die tuis-skool werk wat hul seuns tans doen. Terwyl ons nog daar sit kom die man wat “madafu” (drinkbare kokosneut) verkoop daar aan en dis asof iemand ‘n klok gelui het, want al die kinders is skielik by ons, want madafu is lekker en voedsaam. Die “melk” van die madafu is die beste medisyne teen de-hidrasie, met natuurlike soute, elektroliete en dies meer. Hulle is spotgoedkoop en ek is maar altyd bly as my seuns dit drink, want dan weet ek die sonskyn en seesout wat die liggaam so uitdroog word weer vervang van binne af.
Die son is baie warm, ongeveer 30°-36°, die seewater is warm, ongeveer 25°, en selfs die windjie is warm Die water teen die strand is baie vlak, en op laagwatertye moet mens amper tweehonderd meter van die strand af stap om by die water uit te kom. Soos die gety dan inkom is dit altyd lekker om saam met die vloedwater te “dryf”, want die soutgehalte is baie hoog en dan dryf iemand soos ek makliker as in ‘n swembad.
In Dar es Salaam is daar nie veel slaghuise wat varkvleis verkoop nie, want die helfte van die bevolking is van die geloofsoortuiging dat varkvleis “onrein” is en hulle sal nie eers vleis koop in ‘n winkel waar daar ook varkvleis verkoop word nie. Die Swahili woord vir vark is “nguruwe”, maar die meer algemene woord is “kiti moto” (warm stoel of dan “the hot-seat of contention”) Ons het wel die varkslaghuis in Tangi Bovu ontdek, en gaan gereeld soontoe. Die area is Tangi Bovu gedoop nadat ‘n petrolvragmotor daar omgeslaan en die stukkende petroltenk daar langs die pad gelê het. Die Swahili woord vir tenk is “tangi” en stukkend is “bovu”, dus was die area Stukkende Tenk oftewel Tangi Bovu gedoop.
Die vleis is goedkoop, maar mens moet maar bontstaan, want as die slagter eers begin kap aan die karkas met sy panga dan spat alles en almal vol stukkies vleis en been. Mens moet ook dan maar die vleis mooi skoonmaak by die huis, die oortollige vet afsny en dit vir die Masaai gee, en dan die vleis met ‘n paar speserye bewerk voordat daar gebraai kan word. Die Masaai kook die vet op en drink dit dan met die idee dat dit gesond is vir hulle as “manne” en hul “manlikheid” goed doen. As Suid Afrikaners is geen voorbereiding te veel vir ‘n braai nie en ons het gereeld sommer heelwat vleis aangekoop en voorberei sodat ons altyd gereed sal wees vir tydige en ontydige braai-uitnodigings of sootgelyke besoeke of uittogte. Ons Masaai was dus ook vreeslike “manlike” manne.
Die een spesifieke Sondag was my goeie vriend ook saam met ons op die strand en ons het heerlike dik, sappige varktjops gebraai met braaibroodjies en lekker aartappelslaai en tamatieslaai. Daar was heerlik gekuier en met almal in die omgewing gesels. Ons het ‘n lang ent op die pragtige wit strand gestap, tot amper waar die visarend se nes is en ook daar bekende gesigte gesien, gewuif en met party geselsies aangeknoop. Ek het so in die verbyloop ook sommer ‘n paar afsprake met kliënte gemaak vir die komende week.
Die vis-en-kreef-verkoper het ook sy opwagting gemaak, maar ons weet sy krewe is baie klein en sy pryse baie groot, so ons het hom maar die gebruiklike koeldrankie gegee en gegroet, maar niks gekoop nie.

Met die terugkeer na die stad pak ons natuurlik al ons besittings in en gooi dan sommer die varkvelle en bene wat oorgebly het by die laaste houtskool in die emmer, want net soos ons, was my honde baie lief vir ‘n lekker vark been om aan te kou. Ons ry teug na die veerboot en gesels gedurende die wagtyd met die sonbrilverkoper en die koeldrankman en kyk na al die goed wat die mense saamdra. Partymaal gaan my vrou en seuns die winkeltjies verken en kom dan met buitensporige items soos koplappe of silwerkleurige plastiek-kruise aangestap, wat gewoonlik ‘n gelag en geskerts laat begin. Eendag het my oudste selfs met ‘n nar se hoed en ‘n “towerstokkie” opgedaag en ons almal, bystaanders ingesluit, met sy manewales laat skaterlag.
Soos ons dié dag nader aan die veerboot kom en die pad smaller word, sit ons maar in die voertuig, want die hoeveelheid voetgangers is iets ysliks. Die veerboot stop en die mense begin afstap, maar omdat Tanzaniërs altyd voel hulle wil eerste wees, wag niemand vir niemand nie en diegene wat op die boot wil kom verdring dan diegene wat afstap en dit veroorsaak dat daar altyd ‘n mensemassa en gemaal is wat regtigwaar nie beskryf kan word nie.
Te midde van die mense se gewoel hier om ons moet ons, soos gewoonlik, ‘n ogie oor ons besittings agter op die bakkie hou, en terwyl ek so kyk sien ek hoe ‘n verbyloper sy hand in die emmer druk en een van my honde se bene steel en daaraan begin peusel. Ek spring toe by my deur uit en roep in ‘n harde stem, sodat almal kan hoor, in Swahili: “Hey Bwana, karibu nguruwe!” wat beteken, “Meneer, jy is welkom aan die varkvleis!”
Meteens gooi die man die been op die grond en begin sommer hoes uit afsku vir die “onreinheid” wat hy nou net in sy mond gesit het, terwyl die mense om hom padgee sodat hul nie “besmet” word nie en hy alleen in ‘n oop area staan, uitgevang as “mwizi” (dief) en ook eter van “onreine” vleis, ‘n dubbele aantyging teen hom en sy geloofsoortuiging. Ons kon maar net lag en dit daar laat, want die steel van ‘n been gaan my nie aanraak nie en sy openbare skuldigbevinding was straf genoeg vir hom. Hierna is my heldergeel bakkie ook bekend as die bakkie van kiti moto en niemand het hierna dit te naby aan ons gewaag op die veerboot of in die skare nie.
Daardie aand het ons, nie uit geloofsoortuiging nie, maar meer uit pure lus, biefstuk-filet gebraai en weer heerlik gelag en gesels oor die varkvleisdief en die dag op die strand. Ek kon nie help om die seuns daarop te wys dat enige sulke oneerlikheid op een of ander manier algemene rugbaar sal word nie en dat hul dus maar hul goed altyd op eerlike maniere moes bekom. Ek self was net dankbaar dat ons nie deur geloof weerhou word van die vreugde van varkvleis of dat ons met sak en pak op ons koppe op ‘n veerboot ons reis moet onderneem nie, maar wel met ‘n helder geel bakkie.
Al debat wat nog deur die jare vurig deur ons gesin gevoer word, is die voor- en nadele van varkbraai op die strand teenoor bief-fillet by die huis, maar met hierdie twee uiterste genietinge kan ek rustig in my lewe saamleef.

© Grootvissie
Augustus 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed