
Die groot man met die groot aptyt
(Hierdie storie word vir waar oorvertel. Die tante was só verstom deur so ‘n groot eetlus dat sy dit net met iemand moes deel. Die gebeurtenis is aan die skrywer oorvertel deur wyle Chris Austin van die Brits omgewing.)
In die Matlabas distrik, dis in die Thabazimbi omgewing en word so genoem omdat die Matlabasrivier deur die gebied vloei, het Sarel beeste opgepas. Hy was ‘n reus van ‘n man met breë skouers en voorarms waarop ‘n os jaloers sou wees. Hy was so 25. Sarel het net een probleem gehad. Hy was nie so vlug van verstand soos die res van die mense nie. Maar Sarel het gewerk.
Elke dag het hy sy pa se beeste in die veld opgepas. Niks of niemand het naby hulle gekom nie. Mens sorg immers vir jou eie goed. En in daardie jare het almal respek gehad vir iemand wat werk. Maak nie saak watter soort werk nie.
Langs die veld waar Sarel die beeste so getrou opgepas het, het oom en tante Ellis gewoon. Op hierdie spesifieke dag het hulle juis ‘n ribbokkie in die pot gehad. Die tante was immer gasvry soos dit ‘n Christen boerevrou betaam. Op hierdie dag het sy die jongman wat so hard gewerk het innig in haar hart jammer gekry en nooi toe vir Sarel vir so ‘n happie of twee.
Skugter aanvaar Sarel die aanbod synde dat die tante nou so aandring. Die volgende gebeure moes seker maar vir die tante skokkend gewees het maar weereens soos ‘n gasvrye boervrou het sy net geswyg en geglimlag.
Sarel neem die groot swart pappot se deksel en skep hom lekker oorlopensvol met putu-pap. Uit die pot haal hy ‘n hele ribbok boud en meet hom so met die oog of dit voldoende sal wees. Hy gooi toe genoeg van die lekker brediesous daaroor. Nadat hy gedank het val hy weg en eet. En het hy weggeval! Die pot se deksel was nie eers ‘n sarsie te veel vir hom nie. Hy het hom kafgedraf. Toe vryf hy behaaglik oor sy maag en laat so ‘n lekker bielie van ‘n “burp” los.
Die tante wou weet of hy darem nou versadig is en genoeg geëet het. “Dankie Tante, nog so ‘n “kanfruit” bottel met melk sal die smaaklike ete nou net mooi afrond” was Sarel se antwoord. Die tante het aan sy versoek voldoen maar ek dink sy sou in die vervolg twee maal dink voor sy die fris jong knaap met sy ewe fris aptyt weer nooi vir ete!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.