Springgety in Bongoyo
Springgety op Bongoyo
So teenaan die kus van Tanzanië, eintlik baie naby, is daar ‘n hele spul klein eilandjies. Hulle word nie bewoon nie, maar is tog gewilde toeriste- aantreklikhede. Hier kan jy nou luilekker in die son lê en jouself heeltemal verbrand, jy kan die rotspoele ondersoek of jy kan in die warm tropiese waters swem en al die tropiese visse sien. Dit is dan ook wat ons planne was vir die dag op Bongoyo-eiland.
Bongoyo is omtrent so ‘n kilometer van die kus af en het nie veel interessanthede om te sien nie, maar die kans om net weg te kom uit die stadsrumoer laat ons nie sommerso verbygaan nie. Ons ry dus almal na die afsetpunt en daar word al wat ‘n koeldrankkissie en yspak en koue drinkding in ‘n redelik kleinerige bootjie gelaai. Die water is maar vlak, so groter bote kan nie by die kaai vasmeer nie. Die kleiner bootjie neem jou na ‘n groter bootjie, waar al’s weer oorgelaai en aangegee moet word, en dié neem mens dan na die eiland, waar al’s weer in tru-rat andersom gedoen word na ‘n kleiner bootjie wat dan tot op die strand vaar, waar jy dan op die eiland afklim en al’s aflaai. Teen die tyd is daar net twee dinge waaraan jy dink, die eerste is om alles in ‘n koelteplek te kry, en die tweede is om dadelik ‘n koue drinkding te kry en skouerdiep net in die water te gaan sit en ontspan.
Dit moet al twee sommer vinnig gebeur, want die sand is warm, baie warm, en die ys gaan smelt en die ete moet nog gevang word, maar hieroor ‘n bietjie later.
Gelukkig is die seuns al gewoond aan die intensiteit en die nood van die oomblik, want ons was mos al vantevore hier, en hulle dra sommer gou-gou alles in ‘n banda (dak van piesang en palmtakke op pale op die strand) in en annekseer so ook vir ons ‘n skaduplekkie in die son. Die nodige klere word verruil, aangehou of uitgetrek en die allernodige room word aan die manne gesmeer, ek inkluis, en daar skiet ons almal af water toe. Party hardloop skreeuend oor die warm sand, ander, soos ek, loop bedaard in plakkies wat dan op die nat sand geparkeer word vir latere gebruik, en kom dan ook so met die grasie van ‘n ouer in die water tot ruste, met die nodige lafenis in die hand natuurlik.
So sit ons dan, en elke nou en dan staan ons op om bietjie af te koel, want die water is warm, maar die briesie waai mens tog te lekker koel. Die bootman kom verneem oor die middagete-bestellings en ons bestel sommer almal die normale vis en skyfies. Ons weet uit ondervinding dat die drank wat saamgebring word op die boot redelik duur is, dus bring ons ons eie, maar die vis en tjippies bly bobaas. Die sakke aartappels het saamgekom, maar nou dat hulle die kosbestellings het, moet die manne gaan visvang en vuur maak, en dis juis dit wat dit so lekker maak.
Soos ons sit en gesels oor al die dinge van die lewe, merk ons ook op dat die water redelik beweeg hier om ons, anders as die gewone sagte deinings wat ons ken, maar ons steur ons nie veel daaraan nie.
Ek en die manne besluit om bietjie die vissies te gaan kyk en met paddavoete en duikbrille is ons die water in om onsself aan die seelewe te verwonder. Net so tien meter van die strand af is die water al meer as twee meter diep, maar ‘n mens voel asof jy in ‘n tropiese akwarium swem. Daar is derduisende vissies van elke kleur en vorm waaraan jy kan dink. Party het strepies en ander weer kolletjies. Een is helder blou en die ander weer geel. Daar is vissies in die anemone en onder klippe, tussen stukkies seewier en anderkant kleurvolle koraalgroeisels. Daar is letterlik vissies vir Afrika, en as jy mooi kyk, sien jy ook reuse gapermossels wat oopbek tussen die seewier wegkruip, party van hulle amper ‘n meter wyd. As jy dan waaghalsig is en jou asem net bietjie langer kan ophou, dan kan jy tot op die sand afduik en onder die rotse die bontpalings (Honeycomb Moray Eels) sien. Hulle lyk effe skrikwekkend, maar is absoluut pragtig met hul fyn heuningkoek patrone en hul soepel lywe.
Na so ‘n uur of wat se swemmery is die seuns en ek net betyds uit die water om te hoor die vangste was suksesvol en dat middagete binnekort voorgersit sou word. Na ‘n kort rukkie is dit dan ook so en ons trek sommer almal in een van die groter banda’s in om almal saam te eet. Elkeen kry ‘n blikbord, waarvan nie twee uit dieselfe versameling kom nie, met ‘n heel gebakte vis, ‘n klompie skyfies en ‘n klein bietjie tamatie- en uieslaai bedek met ‘n baie klein bietjie gekapte rissie. Op die rand van die bord is ook ‘n hopie growwe sout. Tafels, messe en vurke is nie deel van die samekoms nie en ons sit dus maar elkeen met sy bord op gevoude knieë, koeldrankie stewig in die sand gedruk en lê weg aan die smulkos met ons vingers as eetgerei. Servette is ook nêrens te vinde nie, maar daar is mos ‘n wye oop oseaan waar ons sommer netnou kan afspoel en weer rustig sit en onsself vergaap aan die mense en natuur om ons.
Ons is natuurlik ook nie alleen op die besondere uitstappie nie, inteendeel daar is ‘n hele spul ander mense ook op die eiland op hierdie pragtige sonskyndag, en die grootste groep is ‘n groep Indiërs, wat net so ‘n entjie van ons af hul ete wat hul saamgebring het, geniet.
Nou hier moet ek net gou waarnemings maak, en glo my, ek is lief vir alle mense, en my kommentaar is net op waarnemings gegrond en is nie bedoel om enigsins neerhalend te wees teenoor enige ander nasie of geloofsoortuiging nie. Ek let op dat die besondere groep nie eintlik so besonders is nie, hulle is tipies van die mense wat altyd in ‘n swerm rondbeweeg. Hulle is ‘n groot groep, seker so twintig volwassenes met dan ‘n spul kinders, omtrent twaalf, tussen ouderdomme van ongeveer drie tot agttien jaar. Al die vroue dra gewade, lang moue, lang broeke, lang serpe en lang oorhangrokke wat alles van pols tot enkel bedek, terwyl die mans kaal-bolyf n moderne swembroeke baljaar. Die mans en die vrouens eet apart n die kleiner kinders word nie naby die mans toegelaat as daar geëet word nie. Ouma en oupa is ook daar en vir hulle is twee opvoustoele saamgebring sodat hul gemakliker kan sit. Dan is ek ook verstom om al hul bagasie op te let. Daar is kamerasakke, koelsakke, koelbokse, mandjies en bakke, daar is rugsakke en drasakke en enige ander vorm van sak of bak of trommeltjie waaraan mens kan dink, en ek glimlag oor hul voorbereiding vir die uittog en wonder oor die doeltreffendheid daarvan.
Na ete gaan verken die seuns die rotspoele en ander gate waar daar ook palings en vissies rondjakker terwyl ons grootmense weer nekdiep in die golwende water sit, elk met die nodige vloeibare lafenis in die hand. Dit was dan ook nie lank nie of die golwe begin regtig onrustig raak en ons besluit almal dat ons maar vroeg sal huis toe gaan om liewer daar op my stoep ‘n braaivleisvuur aan die gang te sit.
Soos ons oppak en al ons besittings bymekaarmaak, sien ons die golwe is sommer groot, wel groot vir hierlangs, en ek roep dadelik die bootman en bespreek die nodigheid om ons spoedig van die eiland af te kry. Hy stem ook dadelik saam en begin sommer ook al die ander gaste aanspoor om ook op te pak en gereed te maak vir die terugtog na die vasteland, wat natuurlik ‘n herhaling van die uittog sal wees, net in tru-rat.
Dit is dan ook nou hier waar die spreekwoordelike papaja sommer nou-nou in die waaier vasvlieg en ‘n geweldige gemors gaan veroorsaak. Wat ons nie besef het nie, is dat dit op hierdie spesifieke dag springgety is en dat die branders nie net hoog is nie, maar ook baie sterk as gevolg van die ekstra trekkrag van die gety. Dit kom ons toe agter soos ons die kleiner bootjie pak en begin inklim vir die tog na die groter boot wat vir ons wag. Die bootjie word so ernstig opgelig en neergegooi deur die golwe dat dit haas onmoontlik is om in te klim sonder om in die boot om te slaan of amper waternat gespat te word. My gesinnetjie en ek is gebore Kapenaars, ons ken die see, en vinnig trek hulle en ook ons ander vriende om ons saam om ‘n plan te beraam. Ek besef die hele storie gaan net vererger en wil my gesin dadelik in die eerste bootjie kry, voordat die golwe groter word. ‘n Wonderlike vriend kom staan skuins hier agter my skouer en met sy hand oor sy mond erken hy dat hy van iewers in Namibië kom en nie kan swem nie. Ek stel hom dadelik aan om te sorg dat my gesin veilig is en sorg dat hy saam met hulle in die eerste bootjie klouter. Ek kry vinnig vyf van my mansvriende bymekaar en ons gryp die bootjie vas sodat die golwe hom nie so rondslinger nie, en spoedig is my seuns en al die vroue in die bootjie en daar trek hulle, veilig anderkant die golwe op pad na die groter boot en ek sien my jongste op my vriend se skoot en ook die duim wat die regop in my rigting wys as danksegging vir die besluit om hom saam te stuur. Ek en die vyf manne het besluit om nog bietjie agter te bly sodat ons ook van die ander eilandgangers kan help.
In dié stadium sien die manne in die lapgewade ons plan en besluit onder mekaar dat hulle sommer dieselfde plan sal gebruik, aangesien ons sukses behaal het. Hulle gryp ook ‘n bootjie vas en die vroue en kinders klouter in en al die pakke en sakke en ander pakkasies word ook ingelaai, oupa spring ook behendig in en die twee opvoustoele word ook aangegee, en dis hier waar die papaja werklik die waaier tref in die vorm van die Indiese ouma.
Met alle respek aan ouer, gesette mense, my storie is nie bedoel om jul te verkleineer nie, maar net om die snaaksheid van die situasie uit te beels, want dit wás snaaks. Ouma, wat redelik geset is en ook in lappe en gewade van baie voue geklee is, besluit toe om ook die bootjie te bestyg. Dié fout en die brander en die mans wat die bootjie probeer vashou werk toe nie almal saam nie, want die mans kan nie die boot vashou nie en die brander lig die neus sodat die agterkant sak. Ouma dag toe dis makliker om net daar op te klouter langs die buiteboort masjien, maar haar gewig druk die boot onder die water in en daar begin dit oorstroom en sink onder die golwe. Soos ouma natuurlik inklim rol die golf verby en die boeg sak en die agterkant lig en ouma val vooroor bo-op die bagasie met haar bene in die lug aan weerskante van die buiteboort masjien en ek sien vir die eerste keer in my lewe ‘n boot met handvatsels soos ‘n kruiwa, maar voor ek kan uitbars van die lag. hardloop ons die water in om kinders en vrouens te help. Die mans wat moes vashou, kruip papnat uit die see, die vroue skree vir die kinders en ons help waar ons kan terwyl die bootman Swahili-vloekwoorde uitbulder wat ek nie kan vertaal nie. Wanorde heers vir ‘n hele paar minute in verskeie tale op die strand met handgebarfe en kopskud en vroue- en kindergille wat die see se dreuning uitdoof.
Toe al die mense weer op die strand is begin ons ook die kospakke en rugsakke, die kameratasse en mandjies en al die ander bagasie wat ronddryf of halfpad gesink is, red en sodoende kry ons die hele swerm met al hul bagasie papnat weer op die strand. Na die eskapade weier die groep volstrek om selfs weer te probeer om op die bootjie te klouter en ons ses help toe maar die ander gaste en klim self in die laaste bootjie om terug te keer na die vasteland. Met ons aankoms daar is almal baie gelukkig om mekaar weer te sien en ons vertrek in verskeie voertuie na ons huis om die beplande braaivleis te begin.
Later die week het ek gehoor dat rubberbootjies van die seiljagklub gekom het om die swerm gestrandes op te pik en dat hulle eers na elfuur die aand weer op die vasteland afgelaai is. Ek wonder toe oor hul bagasie se doeltreffendheid, tesame met die lang jurke in die golwende water en of dit werklik so ‘n goeie plan was, en ek onthou terselfdertyd dat die see nie enigeen se speelmaat is nie, hy maak geen onderskeid tussen kleinkinders of oumas nie. Met die gedagte blaai ek verder deur die boek oor tropiese visse en wys my seuns die name van die goed wat ons gesien het, en swyg oor mense wat nie kan swem nie en mense wat dink hulle kan.
© Grootvissie
Augustus 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.