Jongste aktiwiteit:

Vergete sondes – Brons

Vergete sondes

 

Die opwinding van die see-vakansie, bruis deur my are. Yskoue bier, vislyntjie in die water, die koel seebries in my baard. Atta!

 

Die tweeling laaities babbel oor bikini-meisies en groot galjoene.  ˝Kom bulletjies, hierdie sytent gaan nie homself opslaan nie!˝ roep ek hulle nader.

 

Die trekkers is veilig in die stoor toegesluit. Adam het duidelike instruksies vir die Nguni-lekke wat uitgesit moet word. Anna sal Mia se stoepplante natgooi en katkos uitsit. Die vyf droogtejare op Devenpos, in die Kalahari het sy tol geëis. Liggaam en siel het ruskans nodig. Vir vyf jaar moes ek en Mia elke sent omdraai, toe kom die drie mooi jare. Voorsorg is getref vir die jaar voor en die bank- en koöperasierekening is op datum betaal.

 

Dis dag twee op Seestêrstrand. Mia lê salig met haar leesboek op die spierwit sand; haar liggaam blink van die sonbrand-olie waarvan die reuk my in ‘n swymel-slaap dompel. Die geruis van die branders sus my verder tot salige slaap.

 

˝Pa! Pa!˝ die tweeling kom ploeg met hulle nat sandlywe langs my neer.  ˝Pa, kan ek en boeta gaan Putt-Putt speel?˝ vra Tersius. ˝Dis reg, manne, sorg dat julle vir aandete by die karavaan is,˝  sê ek en kom orent.  ˝Mia, ek gaan kry vir ons twee roomyse.˝

 

Ek betaal die roomys en draai om om te loop.  Met die opkyk slag raak ek yskoud. Die roomys smelt en loop in kielie-straaltjies oor my duim. Hoe op aarde is dit moontlik? Hoe de hel beland hy hier op Seestêrstrand? Daardie slang-ogies sal ek ‘n duisend myl ver herken. O dônner, ek moet hom weghou van Mia en die kinders. Hy moet nie eens van hul bestaan bewus word nie! Ek begin in die teenoorgestelde rigting loop. Ek moet selfbeheersing gebruik om nie oor my skouer te loer om vas te stel of hy my gesien het nie.

 

Die gedagtes maal soos my kudde Nguni’s wanneer ek molasse by hul ru-voer gooi. Ek moet verdwyn!

 

Ek stap by ‘n systraatjie in, my hande taai van roomys en sweet.  Die roomyse land met ‘n plof in ‘n straatdrom. Die straat agter my is doodstil. Hy het my nie gesien nie. Of my dalk nie herken met die baard nie.

 

Seestêrstrand is klein. Ek kan nie hier bly nie. Mia en die kinders?  Hulle sal regkom sonder my. Die seuns is al sewentienjaar oud. Mia ken die boerdery.

 

Ek voel die sweet in straletjies agter my blaaie afkronkel … my kaal bolyf is al rooi gebrand. By die laaste huis, voor ek die dorp agterlaat, gryp ek ‘n hemp van ‘n wasgoeddraad af en vra in my gedagtes verskoning.

 

Kuslangs … ek moet op die strand bly. Weg van paaie, weg van Seestêrstrand af … Kaap toe … weg. My hart breek in duisende stukke oor my wandade wat my nou inhaal. ˝Here, ek het dan my sonde voor U bely?˝ bid ek terwyl ek voort strompel.

 

 

Dit was in my weermagdae, uit op pas, in die stad, te jolig.  Die kroeg was skemerdonker.  Die gelag en praat baie. Kon ek nie net my smoel hou oor die wapens wat op pad was nie?

 

Hy het belangstellend nader geskuif, vir my ‘n dubbelbrandewyn bestel en subtiel die een na die ander vraag gestel. Slu kon sy tweede naam wees. Voor ek my kon kry, was ek betrokke in ‘n grootskaalse wapensmokkelplan. Die plaas was weer droog en pa het gesukkel om kop-bo-water te hou. Ek sou groot geld betaal word.

 

Die sindikaat was groter as waarvan ek ooit kon droom. Op twintigjarige ouderdom was ek kniediep in die moeilikheid. My gewete het my aangekla. Ek het na die polisie gegaan.

 

As staatsgetuie het ek skotvry daarvan afgekom, maar daardie laaste dreigement van ˝Slang-oog˝ uit die hofbank sal my altyd bybly: ˝Ek kom een of ander tyd uit die tjoekie … vir jou sal ek kry. Jy gaan vrek!˝  Ek het teruggegaan plaas toe, ‘n lae profiel gehandhaaf en is na vier jaar met die bure se dogter, Mia, getroud.  Ons tweeling is gebore, later jare is ons ouers oorlede en mettertyd het die dreigement vervaag.

 

My strandplakkies klap ‘n hartseer-ritme op die teerpad. Ek grawe ‘n stuk karton uit ‘n drom. Die stank wat daaruit opslaan laat my lyf kotsend ruk. Ek tel ‘n stuk houtskool op. Die skelgeluid wanneer ek daarmee skryf sny tot in murg en been. ˝ Honger˝. Ek kan myself nie sover kry om meer te skryf nie.

 

Honger.  Honger om terug te gaan Devenpos toe. Honger om my vrou en kinders te sien. Honger.

 

Steel is eenvoudig nie ‘n opsie nie. Dan eerder bedel … die Here alleen weet hoe swaar ek hiermee gaan kry. Ek vee met my swart, roet hande oor my gesig en rooi gebrande arms.

 

Ek gaan staan by die naaste robot aan die stegie. ‘n Kruppel vrou storm verbasend vinnig op my af en slaan my met haar knopkierie dat ek behoorlik sterretjies sien. ˝Tsek! Tsek, vervloekste inkommer!! Kry jou eige plek!˝  Ek koes vervaard weg onder haar houe wat om my krom skouers neer reën. Die vernedering… Ek wil ten hemele gil. As dit net nie vir hierdie allesoorheersende honger was nie…

 

Ek stap-draf oor die N1. Toeters en skreeuende bande … ek kom tot stilstand skuins oorkant ‘n groot hospitaal. Die robot is rooi. Daar is geen ander bedelaars nie. Die bord om my nek, dis al waarop ek probeer fokus.  Drie keer verander die robot van kleur … nog drie keer … nog…  Ek staan en asem die uitlaatgasse verstikkend in. Dis dag een. Ek kyk met nuwe oë na die kartonmense.

 

My neus brand, my longe smag na die skoon Kalahari-lug. My moed wou my net begewe toe draai ‘n man sy venster af. Hy kyk my vas in die oë en sê:  ˝Jou honger lê dieper as jou maag˝  Ek neem die honderdrandnoot. Daar kleef ‘n visitekaartjie aan die agterkant daarvan vas. ˝Skakel indien ek kan help met gratis regsadvies.˝

 

Oorbluf staar ek die vreemdeling wat wegtrek agterna.  Die Here het voorsien.

 

©Retha van Deventer, Augustus, 2024.

Woordtelling: 1006




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed