Vreemde weë
Met Kersfees op hande, het die manne gedink,
versterk hul ou bande deur ’n glasie te klink.
Hulle skink elk hul glasie so ’n viervingersvol
vir ‘kommunikasie’ en om lekker te jol!
Hul suip later vrééslik en die vrouens kry skaam
want hul gedra hul skoon beeslik –die hele klomp saam.
Die vrouens stress dikbêk, sit die spul en bekyk;
sien hóé leeg ’n halfjack in minute kan lyk!
(Vergeefs dat ons vrouens vir die mansmense preek
want kórt na die troue word beloftes verbreek.
Van vroeg af tot laatnag gooi die manne dan dop
en baklei met die krag van die waters wat skop!)
Met haankraai teen dagbreek het die manne gevou;
’n veer kon hul omtik so dronk was hul nou.
Ou Skeeloog Le Gransie was die ergste gesuip
en moes hande-en-knieë na sy motor toe kruip!
Ai, vir Horrelpoot-Faas het die spietkôps gewag
op ’n draai na sy plaas, hom vir spoed aan te klag!
Ou fasie verduid’lik: “…net één sgnersie gedrink
en dish wa’om…’hik!’…ek na brannewyn shtink…”
Die volgende dag was oom Faas in die hof
mét tant Siena wat nog in pantoffels rondslof.
Die vonnis was skokkend vir oom Faas (én sy sak!)
En hy het dit wrokkend teen die hof uitgepak.
“Nee sies jy Ou Fasie!” het tant Siena vermaan,
“Jy kan mos gin klaag nie, jy’t dit self mos gedaan.
Van ons honeymoon klaag ek jy moet stop met jou drink,
maar ek praat deur my nek, is wat jý daarvan dink!”
(Vir die jongmanne tuis, daar’s ’n les hier te leer;
bly maar liefs in jou huis -jy’t teen drank géén verweer.
Selfa Noag, die gryse, was deur drank erg bespot
al was hy ’n wyse wat die ark kon laat vlot.
Gedenk ook oom Fasie as versoeking jou ry
en die dop in die glasie jou trag onder te kry:
Tant Siena is toe weg want sy’t hom mos geskei!)
6 Kommentare
-
neels
moet darem nou sê ek het hierdie ene geniet.
-
Kiekies
Gigigi Ja, hy wil mos, laat dit nou vir hom 'n les wees!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
hahaha.. dis nou kostelik!!!