Want die liefde is nie blind nie
(Goud)
Ek weet jy loop soms met ’n blink vlei langs –
’n vlei waarin die wolkelose hemel
(in die koelte van die oggend)
vir eeue reeds skakeer.
Ligte briese wapper deur jou hare,
pluk-pluk aan jou pante –
die kleur van konings is jou hemp.
En hoe sal ek jou oë beskryf
– soos kraanvoëls
in gras- of koringlande
en soos klingelende tinte van saffier
wat adellik oor dobbertjies en eende
tot vér verby die verste rante
op die horisonne tuur.
© Carma Shaw
18 Oktober 2019
2 Kommentare
-

Marsofine
Carma, dit is voorwaar so 'n pragtige beskrywende vers
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2019 projek - Kleur