Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 4 April 2016 Aantal woorde: 773 1553 Kere gelees 15

Wat is ’n huis sonder ’n Moeder

In my Ouma se huis in Johannesburg was daar in die sitkamer ’n pienkerige porseleinbordjie teen die een muur met die woorde: “Wat is ’n huis sonder ’n moeder”.

As ek reg onthou, dan het daar in ’n tante of ’n verlangse familielid ’n langwerpige geraamde plakkaat met ’n swart agtergrond, met ’n bloedrooi roos regs bo en silwer letters met skittergoedjies daarop daaronder, met die einste woorde teen ’n gangmuur gehang.

Ja, inderdaad uiteraard en overgesetsynde, wat ís ’n huis sonder ’n Moeder?

’n Geleerde mater van my sê die anderdag dat hy aan die een of ander verslaggewer ’n ope brief ter kastyding en waardetoevoeging gaan skryf.

Desnieteenstaande die mater se bewese beredeneringsvermoë, het ek tog getwyfel of een mens werklik ’n ander beide kan kasty en lei in een kort briefie. So gedink, was toe wel so gedaan en met die agteroor sit in die voormiddag vandag, neem ek toe ’n veer uit my skrywersvrind se hoed.

Vergun my dus om die kanondrom (*1) wat ek ervaar weens die optrede van sekere van ons hedendaagse jongedames en -vrouens aan die groot klokke te hang en om daardeur, hopelik in die klinke klingel daarvan, iets van ’n jonger medemens te verstaan.

Die afgelope naweek was daar feesgevier in ons dorp. Skaars ’n gesonde haan se tree van die laaste string huise af, het ons mense ’n plaasfees soos min gehou. Die besoekers het kom skaapstertjies en afval eet; slaptjips met sous en roosterkoeke met spek en eier, sosaties en biltong en pannekoek en lewer sonder long.

Die kinders kon koeldrank kies en keur en die grootmense kon koue wyn geniet en hulself opbeur. Die lekkerte het ver uitgehang en almal was duidelik bly om daar te wees.

Tot huistoegaantyd, so skuins na vyf.

Vier jong vroue was die bittereinders. Hulle was meer dors as honger. (*2)

Vir al die sondes wat ek al in my dae gepleeg het, skuifel ek vroegaand my onfikse moegerige lyf op twee seer voete doer na die ingang van die fees se kant toe, om ’n laaste kabel of twee te gaan haal. Die plaas is pragtig hierdie tyd van die dag, veral omdat die son sy laaste draagsel strale oor die kop tussen die wingerd laat deurvloei. Die romantiese sketsie word egter gou besoedel toe ek twee van die hardnekkige wynvraatjies strompellend teen en uit ’n blou opslaantoilet op my pad raakloop. Dis mooi vrouens met mooi goedversorgde klere, juwele en skoene. Dis nie sypaadjievrouens wat ver hiervandaan bedags, naby my werkplek, hul ware onder en in stywe jannas en korter as kort in eergister se romp en geleende hakskoene te koop stel nie; nee, hierdie jong vroue/-dames kan môre-oggend iemand se rekenmeester of regsgeleerde wees.

Maar vandag, is die onderskeid in hul optrede egter dun …

Nadat die vrouens met moeite en met behulp van nog ’n samaritaan tot by hul motor gehelp is, het ek vir ’n oomblik of vier van die brand onder my voete en die pyn in my rug vergeet, want daar waar die gedagtes van afkeur ensovoorts moes vlamvat, is dit voortydig geblus deur die herinnering daaraan dat hierdie vrouens eendag iewers iemand se moeder mag word …

Baie manne, deur al die dae van ons heugenis, sien uit na die wyndeurdrenkte sonsdergange en die pret wat oor die katel se voetstuk loer wanneer ’n plesierige dametjie belangstelling in hulle toon. Baie manne sal die asbak-bekkie oor die hoof sien, net om syne vir ’n rukkie langs hare neer te lê, maar in die oorgawe van daardie oomblik vergeet hy van die een vraag wat hy homself moes vra: “Kan sy môre die Moeder in my huis wees?”

Hier is ’n bekentenis: ek was nie ’n onskuldige enetjie nie; eerder ’n gevalle engel! Bykans elkeen wat ek van jongmensdae en daarna ken, was al verby die punt van nugtere denke en optrede. Dus, herken ek die vier vingers wat na my terugwys terwyl ek soos ’n PW van ouds myne vir ’n ander durf swaai. Maar helaas, dit gaan tog oor Moeder-wees!

Hoe vertel ’n Pa vir sy kinders die storie oor hoe hy en Mamma ontmoet het?

“Ek het Mamma by ’n dans in Die Stal ontmoet … sy het so mooi gelyk daar waar sy in die middel van die dansvloer gelê het” … regtig!

Jammer, dames én menere; julle kinders, my kinders verdien beslis beter as dit.

Voetnota:
*1 conundrum: noun, a confusing and difficult problem or question.
*2 Toe die dronke se vrou die slag weer vir hom vra “hoekom drink jy so baie”, het hy net geantwoord, “want ek bly so dors!”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 92 gaste aanlyn

Bydraes – Argief