Jongste aktiwiteit:

Winter van 1843.

Winter van 1843.

Aan die voet van die Drakensberg is die opstal van Hendrik en Martha de Beer. Dit is die jaar 1843 en winter het sy vere reggeskuif en in volle glorie neergedaal op die vaal vlaktes.

Hendrik se plaas het in die kromming van die berge gelê in, daar waar die berg ʼn natuurlike kom gevorm het.

Hendrik se neef, Anton de Beer sou aanvanklik saam met hulle trek, maar het besluit om in die Vrystaat agter te bly.

Hendrik dink aan die gesprek waar hy Anton gewaarsku het om te besin voor hy sou agterbly.

“Ek sê weer vir jou ou neef, trek eerder saam met ons voor jy hier bly.”

Die De Beers is bekend vir hulle hardkoppige streke en so het Hendrik besluit dat Anton dan maar sy eie kop moes volg.

Hendrik vryf die wit sneeuvlokkies van sy perd se rug af en stap swaar deur die dik laag sneeu na die kombuis waar die vuur in die herd brand.

“Hier het vir jou ʼn brief gekom van jou neef af.”

“Dit is nou toevallig dat ek vandag aan hom gedink het.”

Martha trippel behoorlik rond so nuuskierig is sy om te weet wat in die brief staan wat Hendrik voor die herd staan en lees. Daar is ʼn bekommerde trek op sy gesig as hy na Martha kyk.

“Die man! EK het hom mos gewaarsku om nie goedsmoeds agter te bly nie! As hy saam ons getrek het sou hy nou nie met sy twee kinders op die vlak gesit het nie!”

“Nou is ek goed genoeg om te help!”

Martha kyk op na haar man voor die vuurherd.

“Ag Hendrik, die rondawel staan mos in elk geval leeg, laat Anton en sy gesin voorlopig maar eers hier bly.”

Hendrik lyk verlig en dankbaarheid spoel oor sy gesig as hy na Martha kyk.

Sowat twee week later kom Anton, sy vrou en hulle kinders op die plaas aan en trek in die rondawel in. Anton het so bietjie kleinvee gehad, net sowat dertig stuks vee. Hy het ook paar skape en perde besit.

Die sneeu het omtrent geval toe Anton hulle op die plaas gekom het. Anton was maar skepties oor die toestand van sy vee in die snerpende koue.

Hendrik vermaan vir Anton om ekstra versigtig te wees en baie mooi te kyk na sy vee aangesien hulle nie vertroud is met die wêreld nie.

“Hulle sal baie maklik verdwaal en in hierdie sneeu sal hulle gou verkluim, ou neef.”

“Sodra die winter verby is, sal hulle kondisie sommer gou weer optel.”

Anton is gerusgestel en voel sommer beter nou dat hulle hier by Hendrik en Martha is.

“My vrou, van nou af gaan dit beter gaan, ons moet net die beeste en vee baie mooi oppas dat een van hulle nie afdwaal en verkluim nie.”

Die twaalfjarige Rachel lê styf teen haar boetie Hendrikkie en luister na haar ouers se stemme. Hendrikkie is skaar sewe jaar oud, maar help ook al sy pa as daar klein kalfies is.

Die volgende oggend hoor hulle Boesman se benoude stem as hy vir haar pa vertel van die nuwe, klein kalfie wat weg is!

“Pappa, is dit my kalfie, Frikkie wat weg is?” Die huil slaan plek-plek deur in haar stem as sy haar pa smeek dat sy ook mag help soek.

“Hy ken ook my stem, pappa,” soebat klein Hendrikkie om saam sy sussie te gaan om die kalfie te help soek.

“Nee my man, dit is veels te gevaarlik!” keer hulle ma.

“Vrou, as ek alleen soek, verkluim hy aanstons voor ek hom vind.”

Racheltjie se ma kyk hulle bekommer aan as hulle deur die tak sneeutapyt stap om die kalfie te gaan soek.

“Ag Heer, laat hul veilig terugkom,” bid sy saggies as sy nog paar stompe op die vuur pak. Sy begin met die voorbereiding vir lekker warm kos vir die soekgeselskap.

Dit voel soos ure later toe sy haar man se voetstappe by die gang hoor afkom. Die storm het intussen so sterk opgesteek dat Anton besluit het om huiswaarts te keer om eerder die perd te kom haal.

“Vrou, waar is die kinders? Hulle is seker al lankal terug?”

“WAT!? Hulle is mos saam met jou?”

Racheltjie besef dat sy verdwaal het as sy die soveelste keer by dieselfde miershoop uitkom.

“Ek kry koud sussie,” kerm-huil klein Hendrikkie by Racheltjie.

“Boetie moenie huil, ons gaan nou ʼn speletjie speel tot pappa ons kom haal.”

Racheltjie trek haar tabberd uit asook die wol-sjaal en draai haar boetie toe.

“Kom, jy klim in hierdie uitgeholde miershoop, dan vertel ek vir jou stories.”

Vroegdag vind hulle die nakende lyfie van Racheltjie met net haar skoene aan waar sy oor die miershoop lê met klein Hendrikkie binne, toegedraai in sy suster se kleertjies.

In die ryptrap van ‘n winterlandskap het die Heer vir klein Racheltjie de Beer kom haal.

©Marlene Erasmus
28/06/2022
(817 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed