Jongste aktiwiteit:

Winter van 2021.

Winter van 2021.

Om en by in die middel van Maart verander iets in die natuur. Moeder Natuur is besig om haarself gereed te kry vir ʼn grootse skouspel – op haar verfbordjie is die mooiste kleure denkbaar: wynrooi, terracotta, mandaryn, vermiljoen en goud. Soos ʼn regte joolkoningin tooi sy haar in ʼn blare-rok en begin die skouspel met ʼn vinnige dans en tol haarself in die rondte voor sy begin regmaak vir ʼn lang slaap om uit te rus vir die volgende seisoen.

Ek stap deur die tuin waar ek die aroma van die aarde inasem met dooie droë blare wat klap en kraak onder my voete. Die oggend- en aandluggie het ʼn byt en die koeler weer stem my gelukkig. Selfs die lig skyn witter – die helder kleure wat jy in somermaande vind, begin stadigaan vervaal tot die kenmerkende skouspelagtige herfskleure. Daar is selfs ʼn tikkie melancholie op ʼn kilkoue wintersoggend, na die nag se swartrypaanval op jou tuin as alles versteend staan en vry verkrummel onder jou voetval.

Onwillekeurig wonder mens soms: hoekom is daar dan seisoene? Is dit die mensdom wat seisoene uitgedink het? En baie duidelik kry jy die antwoord in die Woord: “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” (GÉNESIS 8:22).

Elke seisoen speel ʼn besonderse rol, en so raak ons opnuut bewus van die veranderinge van seisoene.

Winter: alhoewel daar baie mense is wat nie hou van winter nie, spreek winter in ʼn mate tot ons oor kanse wat by ons verby gegaan het. Party keer is winter kouer en meer genadeloos as ander winters. In die winterseisoen is daar ook die beelde van swart gebrande gras en kil kaal bome. As winter met haar ysvingers kom skryf teen die ruite, voel jy soms om onder die komberse te bly. Gelukkig is winter ook die seisoen vir warm kaggelvuur-aande en samesyn met jou geliefdes.

Die winter van 2021 het vir my ʼn nuwe perspektief gebring op lewe. Die aaklige virus het behoorlik sy kloue ingeslaan onder geliefde bekendes, vriende en selfs familie. In ons klein gemeenskap het mense soos blare van ʼn boom geval. Ons is geruk deur hartseer verlies en trane het gevloei. Nooit weer sal ek ʼn winter binnegaan sonder ʼn oomblik van meegevoel met dié wat nie so gelukkig was soos ander nie.

Na die winter breek die Lente ongesiens stil aan en as jy die oggend voor jou venster staan en jy besef dit is nie vandag so koud soos gister nie en dat die tyd van dik truie en serpe verby is, is dit asof jy sommer nuwe lus vir die lewe vind. Binnekort verskyn die eerste Lente-bloeisels en die geur van nuwe lewe vul die lug.

In die plek van die blare wat geval het, verskyn jong, groen klein blaartjies en daarmee saam vlam groot opgewondenheid op.

Skielik word dit heelwat vroeër lig en mense op straat lyk asof hulle met ʼn nuwe huppel in die stap loop. Ook op die vooraand van ʼn nuwe seisoen sien ons alles binne ʼn groter plan gebeur: “En hulle het op my gewag soos op reën, en hulle mond wyd oopgemaak soos vir lentereëns. Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.” (JOB 29:23-24).

Dan kom klop Somer aan jou deur – ʼn splinternuwe seisoen! Die bome bot en sal aanstons oortrek wees met vruggies. Na die Winter van 2021 maak dit my opgewonde, want soos in die natuur is dit dalk ook nou tyd vir nuwe dinge soos: samesyn, liefde en respek vir mekaar en vir die lewe. Wanneer ons die nuwe seisoen betree is dit dalk bietjie makliker om ander mense en vriende te ondersteun en moed in te praat.

Daar is groot troos in die woorde: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking.” (FILIPPENSE 4:13-14).

Na die Somer, kom Herfs in sy volle glorie met talle kleure om sy koms aan te kondig. Jy sal vind dat Herfs nie net ʼn besonderse tyd in die natuur aankondig nie, maar dikwels het Herfs groot waarde in ons mense se bestaan.

Die tyd het aangebreek dat ons verandering begin omhels! Mag ons nooit vergeet dat ons Vader, wat alle dinge in die natuur verander en in beheer is, ook daar is in die tyd dat die blare van die bome val. Net so is daar ʼn tyd van nuwe lewe, nuwe begin en al verander die natuur om ons in kleure is ons nooit alleen.

So seker soos winde wat waai om ou blare af te gooi, sal daar nuwe bloeisels kom wat nuwe vrug dra in die nuwe seisoen van die lewe …

©Marlene Erasmus
31/08/2021
(817 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed