2. JOODSE GRAP – Danzig na Krakau
Danzig na Krakau
Volgens Fritz Waigl* is daar Joodse grappe en Jodegrappe. Laasgenoemde is wat in huidige taalgebruik as antisemities gekenteken sou word. Daarteen is Joodse grappies die staaltjies en anekdote wat hebreërs ondermekaar uitdeel. Dikwels is dit stories van „wyse” rabbyne wat „slim” raad gee of tot sonderbare gevolgtrekkings kom, soos byvoorbeeld: „Die maan is belangriker as die son, want hy skyn in die donker nag, maar die son skyn wanneer dit in elk geval daarbuite helder is.”
✶
’n Man sit in die trein op die stasie van Danzig en lees in sy jiddiese koerant. ‘n Jong man klim in en gaan sit teenoor hom. As die trein al uit die stasie uit is, en die landskap vlieg verby, vra hy in jiddies hoe laat dit is.
Die ouere man sê niks en hou aan met lees. Daarop die jongere hardop: „Kan u my asseblief sê hoe laat dit is?”
Geen antwoord nie.
Die jong man leun vorentoe en sê met ‘n bietjie meer nadruk: „HOE. LAAT. IS. DIT?”
Glad geen reaksie nie.
Die jong man sê luidop, „Stokdoof,” sug, kyk maar by die venster uit en sien hoe die vervelige landskap verbytrek. Dis ‘n lang ent na Krakau (sê Kgrakgaau) en die ure kruip verby tot die buitewyke van die stad in sig is.
„Eindelik! Daar kom eindelik Krakau,” sê die jongling hardop vir homself.
„Ja, daar klim ek ook uit,” sê die man teenoor en vou sy koerant saam.
„Ag, u kan tog hoor!” sê die jong man verwondert. „Maar hoekom het u nie geantwoord nie toe ek praat?”
Die ouer man kyk hom stip aan en leun vorentoe. „Luister nou goed wat ek sê,” sê hy. „As ek jou sou gesê het hoe laat dit is, sou ons in gesprek gekom het. Ons gesels oor dit en dat, en vroeër of later ontdek ons dat ons dieselfde besigheidsinteresses het, en dat jy ‘n plek soek waar jy jou loopbaan kan begin, en ek bied jou ‘n werk aan. Ons ontdek daartoe dat ons glad nie so ver uitmekaar woon nie. Nou, jy is ‘n ordentlike jong man en ek is ‘n ouere heer met fyn gevoelens, en ek nooi jou uit om by ons te kom eet. En kort voor lang kom eet jy reëlmatig by ons. En my vrou hou van jou en slaan voor dat ek jou in my saak sal bevorder. En my dogter wat jou ouderdom is en jy gaan saans saam uit en een aand kom sy na my en met haar liefste stem en met helderstralende oë vertel sy my dat sy jou liefhet en dat jy wil kom ouersvra.
Nou, wat dink jy, wil ek as skoonseun ‘n arme Jood hê wat nie eers ‘n horlosie besit nie?”
✶
[*Fritz Waigl, joodse joernalis in Salzburg, Oosterryk, het kort voor sy dood in die tagtigers ‘n versameling joodse anekdootjies uitgegee. Hierdie verhaaltjie stam daaruit.]
12e.September2017________✶_________________(‘11)tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.