22 Februarie – Vrydagoggend
dis agtuur in die môre
en die maan hang soos ‘n wit klip
in die lug;
duiwe flikkervlerk in kringe
– soheentoe en t’rug
die kwikstert trippel langs die geute
teen die dak;
in die ou boom met die skilferbas
klou ’n muisvoël aan ’n doringtak
van ver af kom ’n kolgans aan
(hy vlieg oor hoër hoogtes,
hy seil oor laer land)
en daar is noodkreet in sy skreeu:
die berge by Franschoek
is vanoggend aan die brand
maar hier’s dit agtuur in die môre
en die maan sweef soos ’n wit klip
deur die lug
terwyl die hemel dagbreekblou
en Brackenfell se duiwe
(nimmereindig)
in oeronthou se sirkels vlug
© Carma Shaw
23 Februarie 2019
16:28
Foto: Carol Botha
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.