Tyd wat deur die uurglas loop
hosannas in die strate gesing
‘n volk wat hul koning lof en eer bring
lofsang van die hosanna-dag weerklink deur tyd
word gehoor tot in ewigheid
Sy volgelinge te moeg om saam te waak
in die nag van bloedsweet lê hul en slaap
ons slaap steeds rustig teen die tik van tyd
tyd gemeet teen ewigheid
‘n judaskus van verraad
die Meester uitgelewer met ‘n liefdesdaad
die uurglas het kantelpunt bereik
in die draai van ewigheid
onskuldig bevind deur die hoogste gesag
word Hy deur Sy volk verag
tog is daar steeds genadetyd
tyd wat tik teen ewigheid
‘n moordenaar in Sy plek vrylaat
die diepste kruis-verraad
die uurglas van tyd
kantel om teen ewigheid
Hy gespot, gegesel, geslaan, gehaat
ek deur Sy lyding en dood vrygelaat
my uurglas van tyd
nou gemeet aan ewigheid
die uurglas van tyd het leeggeloop
die sandkorrels kan nou getel word
ons tyd is uitverkoop
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.