Noudat jy weg is
sal olifante – swaar van voet –
steeds teen rante en oor vlaktes loop,
sal hul purper bas en sagte hout
van kaaltak kremetarte stroop.
Langs die waters van die groot rivier
sal koorsboomstamme immer groen.
Mopanieblare sal tot roes kom
soos dit maar elke winter doen.
Die reier en die ooievaar
sal nog visse in ‘n vlak stroom vang.
En as die arend weer kom prooi soek
sal hy huiwer in sy vlug
en bo ‘n blou Limpopo hang.
By ‘n silwer dam
waar ‘n woud weerkaats
en kwêlaswerms oor die water vee,
sal ‘n grootlangtoon nog sirkels vlieg,
die kiewiet (dalk) ‘n bietjie harder skree.
Selfs nóú dat jy weg is
sal ‘n kolgans vlieg deur skemer lig
– die dag sal breek tot klatergoud.
En elke volmaan sal vir jou vlam
(waar die jakkals tjank)
verby ‘n doringhout.
© Carma Shaw
22 Augustus 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.