Jongste aktiwiteit:

Kersfeeswonders

My nuwejaarswens van ‘n duisend sterre vir ‘n ieder en ‘n elk het my gedagtes weer laat koers kies na kerstyd as kind. Sterre laat my altyd aan kersfees dink, sekerlik vanweë die kerstoneel in die kinderbybel met die Betlehemster wat helder in die hemel hang om die pad aan te wys. Vandaar seker ons mensdom se fassinering met al wat liggie is en ons graag kerstyd ons huise en strate verfraai met kersliggies wat ons wegvoer na vele kinderkersfeeste. Kerstyd as kind het vir die meeste mense ‘n buitengewone bekoring, die hoogtepunt op die jaarlikse kalender wat gepaard gaan met helder liggies, blink kersversierings, kleurvolle kersbome en natuurlik die onoortreflike lekkerte vir enige kind – die kersgeskenke onder die boom.
Sal ek ooit die afwagting vergeet van ‘n naderende oukersaand. Eers op die oggend van die 24e word die kersboom afgesaag – ‘n lekker sterk tak van die Tamarixboom onder in die lusernland, of Abikwa soos ons hom geken het – ‘n plaasvervanger vir die tradisionele denneboom soos ons Europese geesgenote aan gewoond is, maar vir ons ‘n egte Suidweskersboom met sy toiingrige fyn blaartjies wat binne ‘n dag begin verdroog en afval. Seker dié dat hy eers op oukersdag opgesit is. Dan die opgewondenheid om die boom te versier met al die blink balletjies, stringetjies en die heel lekkerste die kershouertjies vir die miniatuurkersies wat aan die takkies opgehang is en met oukersaand opgesteek word. ‘n Paar keer het daardie kersies die halfverdroogde blaartjies laat vlam vat en dan moes daar naarstiglik geblus word om ‘n volskaalse huisbrand te verhoed!
En dan die toedraai van kersgeskenke, te midde van groot geheimsinnigheid agter geslote kamerdeure, wat met liefde en sorg versier word met ‘n lintjie, strikkie en handgeskrewe kaartjie daarby. Die groot lekkerte van ‘n stapel geskenke onder die boom, ‘n skelm gevroetel en geskud aan dié met jou naam op as Ma nie in die rondte is nie, net om die misterie en opgewonde afwagting verder te verhoog.
Ek onthou dat “kersvader” soms met die donkiekar padlangs in die donker gekom het met ‘n gelui van klokkies. En die plaasvolkies wat dansend met gloeiende stokkies in die donker aankom om hulle geskenke te kom haal – ‘n pragtige feestelike gesig in die stikdonker nag.
Die gedagte aan Kersfees tower dus steeds vir my ‘n prentjie op van ‘n helder sterrehemel op die plaas waar ons Desembernagte buite onder die sterre geslaap het.
Hoewel daardie kinderlike behae in kersfees lank reeds verlore gegaan het in die drukgang van die lewe, het ek steeds ‘n fassinasie met kersliggies en sterre en die maanlig in die nag. Dit bly vir my die simbool van vreedsaamheid en liefdevolle samesyn. Telkens kom kersfeesherinneringe van kindwees op die plaas met ‘n bittersoet onthou in my gemoed sit en ervaar ek die vreugde daarvan met ‘n heimwee wat maar altoos my metgesel is in sulke tye.
Maar terselfdertyd vind ek berusting en vrede in my herinnering en in die natuur se eie kersspel van sterlig in ‘n donker woestyn.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • LT het n geregistreerde lid geword

  • Pierce het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Isha Welman het ‘n nuwe publikasie gemaak