Belydenis
Die snik in haar oë
maak die voorlopersnit
soos die dokter se lem
strepie rooi agterlaat,
voor die bloed uitwaarts beur
tot die klein kake klem
om die vloed eers te keer.
En die kraak in haar stem
is die lem wat ontbloot,
dit wat diep eers gelê het,
weggesteek,
weggekruip,
wegebêre.
Van die skuld en die wete
dis ek, dis nie sy nie.
“Dit is ek!” is die kreet
van die donker gewete.
En die huil van haar hart
sny finaal tot die been,
tot dit wit lê, die liefde
eens lewend en mooi,
nou bleek en verlate
sypel stadig tot rooi..
En ‘n hart lê gebroke,
verstote, alleen.
En die som van die pyn
en die hartseer en leed
is die prys wat betaal word
as die sonstrale kwyn.
En ‘n siel roep gebroke,
“Wat het ek gedoen?”
Haar liefde vertrap onder
voete van wellus,
met oë verblind
deur die soeke na meer.
Laat verflenter nou agter
dit wat was en kon wees.
Die wond lê wyd oop
en bloeiend die seer
wat roep om genade
en knielend die hoof buig,
“Vergewe my Heer?”
©19/10/2010 Anton Bosch
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.