Immergroen Fatsoen
IMMERGROEN FATSOEN
In die kringloop van droë seisoen na seisoen
wil herfs homself weereens met winter versoen
hy skud sy bruin jas leeg
drapeer met uitgedroogte blare wat aan hom vaskleef
een vir een val dorheid na die grond
eens gevul met chlorofil nou ‘n vervalle bont
soos met vlamkwaste ingekleur
lê ‘n silwerskoon skilderdoek voor ‘n nuwe seisoen se deur
boomverlore word blare op hope gevee
swerm voëls wat op die maat van ‘n hartseer noot migreer
hoe wens ek vir huilende blare ‘n immergroen fatsoen
waar rondfladder drome eerder kon vermiljoen
was ek maar ‘n blaar
sou ek myself dekkleed met immermooi
pronk tussen bloeisels in damaskusrooi
vredevolle lirieke opgaar
hang aan takke waar vreugdesang uit my wese vaar
ek sou woorde saai
lewenslustig rondwaai
met my groen bruidsrok
‘n ewige seisoensverbond aflê
nietig nooit gekoppel wees aan die groot ou klok
waar tyd geen sê
oor my bestaan in ‘n omwenteling kon hê
©️Wendy Leigh
2 Kommentare
-

Elizabeth
Lieflik Wendy!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek