as die kerkklokke lui (silwer)
wanneer winter vroeë môre sluimer-sloer,
songesig skuifel-skuifel,
knipoog-loer
rafelhang ‘n asgrys wolkjas
kort voor lank
waar onewe horlosiebene drentel,
skuins na ag
ewe hinke-pinke, skamerig
alom die skilferende plooigesiglyne
waaragter kerkklokke nou luidkeels
dog hoogheilig langsaam huil
dreunerig snikkend in klingel-klang
herroep dan ‘n era van jare lank,
draai honderde sonsopkomste terug
en my kaalvoetkind toringklim na songesig dae in skitteroë
toe ek nog klokhelder kon,
kon onthou sing en hoor
maar nou bly …
net ‘n vibrasie van,
‘n prewelpraat begeerte opgewen
soos tortelduifgesang
maar as die kerkklokke so lui
in my Vader se aardse huis – my tydelike woning
dan weet ek …
my tyd,
gaan kort voor lank
in engele lofliedere wolkbreek,
sodra my laaste winterasem wegwaai
sal ‘k by Sy hemelse huis
óók my ewige woning
bloeiselbot
Elizabeth
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2022 My huis is my woning projek