Jongste aktiwiteit:

Blommelicious

Woordtelling 631

Dis maar moeilik om oor enigiets liries te raak wanneer jy weens die hoë petrol prys tuis moet bly en saans noodgedwonge by kerslig in mekaar se oë sit en staar. Dis nie eintlik om voor te gee dat jy in jou aftreejare skielik ‘n opwelling van romanse ervaar nie, maar veel eerder omdat Eskom vir die soveelste week na mekaar ʼn onophoudelike probleem ervaar. Eers was die kole nat en nou is die diesel op. Intussen maak hulle die kragstasies blykbaar met kinderspeelgoed reg. Sug.

So, wat is dan nuut? Wat is daar wat mens nog enigsins opgewonde kan maak, veral as jy hoor dat Checker-Checkers-net-om-die-hoek te ver is en mens g’n vir elke brood en tjoklit winkel toe kan ry nie. Dan sit ek maar dikbek tuis terwyl ek gefrustreerd op my tande kners. Saans kan mens nog vroeg in die bed gaan kruip, maar bedags (werktyd) is dit niks anders as ‘n frustrasie nie. Maar nou ja, so is die lewe op die oomblik.

Soms het Hubby ‘n harde stamp in die rigting van ‘n uitstappie nodig om hom uit daardie diep groef van tuisbly te lig. “Kom ons gaan kyk of die proteas blom” en in die hardloop gryp ek net vinnig na ‘n waterbottel. Ek is te bang dat indien ek te lank sou draai, die hele “op die ingewing van die oomblik”-onbeplande uitstappie na die maan gaan wees. Carpe diem! Gryp daai oomblik wanneer hy binne bereik kom.

Ai, dit is darem alte lekker om weer buite hierdie vier mure vrygelaat te word en die buitewêreld lyk weer vars en mooi soos op daardie eerste dag. Dit voel asof my longe uitswel en ek haal sommer makliker asem. Die dou op die groen gras, die swaaiende takke in die wind. Ek moet myself net keer om nie langs die pad te parkeer en eers in die veld te gaan stap nie. Dit is darem báie beter as daardie blertsie gras en die twee honger duiwe wat deur die eetkamer se venster sigbaar is. Nou en dan maak die kwikstertjie ook sy verskyning op die vensterbank. Maar die dag wat ek toestemming kry om die sleutel in die aansitter te draai, kom die son sommer twee maal op!

Hier en daar waar die heuwels ‘n onverwagte gaping maak, word die blou-blou van die see sigbaar. My hart klop opgewonde en ek moet myself net knyp om te weet ek droom nie. Die see is nét daar, al sien ons dit maar selde, en die fynbos langs die snelweg maak alles sommer weer reg. Saam met die gesing van die motorbande op die teerpad, kan ek hoor hoe my hartjie sing. Ons draai links en ry stadig al met die kronkelpad tussen die digte bosse deur. Hier en daar loop ons van die plaaslike inwoners raak, almal geklee in kleurvolle tradisionele drag en ‘n staf in die hand. Dit moet ʼn belangrike geleentheid geleentheid wees en dis darem ‘n mooi prentjie om op ‘n lou-warm weeksoggend teë te kom.

En dan die proteas… Ai man, kilometers ver staan dit in volle blom. Dit is niks anders as asemrowend nie. Grotes, kleintjies, geel, rooi, wit, groen, pienk, oop kelke, toe kelke – jy bedink ‘n blom en dit neem vorm aan. Dit is waarlik ‘n lus vir die oog. Strelitzias, fynbos, jy noem ʼn veldblom en dis daar. Ons hou by ‘n tafeltjie stil en sit eers rustig om middagete te geniet. Geen ander plek laat toebroodjies so lekker smaak nie!

Hoeveel armer is ons nie sonder hierdie lieflikheid nie? Ek tel my seëninge een vir een en raak sommer hoendervleis van lekkerkry. So, is daar nog iets om oor liries te raak? Verseker. Soms moet mens net eers verby jou denkbeeldige sifdraad-tronk kyk om dit raak te sien.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed