Jongste aktiwiteit:

Sinestesie

Sinestesie*

Ek sit op die stoep van my lewe
en voel hoe die dag na stilte roep
wyl skaduwees soos reuse word

ek hoor hoe die strykstok van die son
sy laaste note bladlees
in die balk van die seisoene

ek sien hoe die son skemer dirigeer
tot v-ê-r … v-ê-r … oor die horison
en laag buig voor die applous van die sterre

ek voel hoe die nag sy karos hang
om die skouers van die lig

ek sien hoe triljoene flikkerende sterrenote
toonset in die balk deur die maan gebaan
en soos skitterende spinnerakke verskyn
in die lirieke van die hemelruim

ek ruik die akapellas van die nag ontwaak
uit hul diepe slaap
en begin tot eer van die Skepper
’n loflied sing
kraaknuut
vonkelnuut
vars

op die stoep van my lewe …
——————oo00oo——————
© Pieter Mostert
[*Sinestesie beteken letterlik ‘saam waarneem’ m.a.w. dit is ’n vermenging van sintuiglike waarneming, in die sin dat twee sintuie dieselfde ‘ding’ gelyktydig waarneem]

[STERGRADERING: BRONS]




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed