Sinestesie
Sinestesie*
Ek sit op die stoep van my lewe
en voel hoe die dag na stilte roep
wyl skaduwees soos reuse word
ek hoor hoe die strykstok van die son
sy laaste note bladlees
in die balk van die seisoene
ek sien hoe die son skemer dirigeer
tot v-ê-r … v-ê-r … oor die horison
en laag buig voor die applous van die sterre
ek voel hoe die nag sy karos hang
om die skouers van die lig
ek sien hoe triljoene flikkerende sterrenote
toonset in die balk deur die maan gebaan
en soos skitterende spinnerakke verskyn
in die lirieke van die hemelruim
ek ruik die akapellas van die nag ontwaak
uit hul diepe slaap
en begin tot eer van die Skepper
’n loflied sing
kraaknuut
vonkelnuut
vars
op die stoep van my lewe …
——————oo00oo——————
© Pieter Mostert
[*Sinestesie beteken letterlik ‘saam waarneem’ m.a.w. dit is ’n vermenging van sintuiglike waarneming, in die sin dat twee sintuie dieselfde ‘ding’ gelyktydig waarneem]
[STERGRADERING: BRONS]
2 Kommentare
-

Koos Elsum
Dankie die gedig van oorgang is treffend ! Kommentaar : Ek is geen kenner, geniet net die digkuns aanvaar dus die as my leer proses. Die woord “akapella” het my laat skarrel, die korrekte spelling is met ń “c” en dit reuk dit mos nie ? Miskien reuk met hoor vervang
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT