Die maalkolk
Die maalkolk
geskryf deur Dale Penderis ©
Ek wil vir jou n liedjie sing
sonder wysie sonder woorde
hiér wil ek my gedagtes bring
met geen klavier-akkoorde
Ek wil vir jou n briefie skryf
sonder ink sonder blaaie
oor wat my soms na binne dryf
sonder doekies sonder draaie
Hoor jy die ritme wat nostalgies klop
tussen die gepleisterde mure van my hart
ek weet ek wys geen emosies
ek leef dit in my kop
as jy verby die klankdig mure luister
sal jy hóór hoe my hele wese vir jou fluister…
Ek bemin jou (doen ek?)
oor en oor
ek vergewe jou (het ek?)
weer en weer
ek kies om te vergeet
van dít waarvan jy dalk nie eers weet
Dié keer wil ek eerste wees
nie tweede derde laaste
ek was immers joune…
en dít… méér as net jou naaste
Ek sukkel soms … en raak nog kwaad
my rebellie-hart skop hard
vergewe vergeef vergifnis
van vooraf repeterend die vrug van goeie saad
ek vergewe jou…
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.