simfonie van hoop (SILWER)
donkerte bedek my soos ‘n swaar kombers
klam koue vingers van vrees omklem my
elke skadu ’n gedagte swart en intens
elke geluid ’n vae fluistering van vrees
wat as, wat as, wat as…
eggo die woorde deur my gedagtes
soos wind wat fluister deur wintertakke
’n melodie van onsekerheid oor die toekoms
dreigende donker wolke vorm in my kop
laat verdwyn die bekende in my sig
die onbekende lê dreigend vir my en loer
’n afgrond waar niks meer bekend is nie
maar diep binne brand ‘n vlam wat flikker
’n klein liggie van hoop vonkel in my
die onbekende is tog nie die einde nie
maar ‘n nuwe hoofstuk in my boek
die ongekende vrees hou my vas
maar die vlam brand al hoe meer helder
elke tree vorentoe is ’n oorwinning vir my
‘n triomf oor die onsigbare mure van vrees
skaduwees verdwyn en fluisteringe verstil
as die kombers weg val soos mis voor die son
die onbekende word ‘n skoon leë doek wat
wag om geverf te word in helder kleur van hoop
wat as, wat as, wat as…
word ‘n kragtige nuwe lied van wat kan wees,
‘n simfonie van hoop en nuwe begin
‘n reis na die onbekende in ‘n triomf oor vrees
©MarleneErasmus
30/06/2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek