Elikser (goud)
Dis magies my lief,
as reëndruppels in vlae
oor die Boesmanland se son- en
windverweerde lyf neerplof,
en diep uit haar dor porieë
stoom die eg aardse boeket
van rots en vergane dierereste
versny met dié van botterblom,
blousporrie, kokerboom en stof,
wat mens net vir ‘n oomblik,
net vlíétend, laat vergeet
hoe wanhoop in ‘n uitgesuipte ooi se oë lyk,
hoe skroeidroef droogte ruik,
want daar’s weer water in die droë loop
en as éssens van die fyngeur, talm hoop …
skroeidroef – verskroeid, droewig = reuk van droogte
©️Elize Kruger
Februarie 2025
2 Kommentare
-

Hester Steenkamp
O goeiste, hierdie vers is uitmuntend! Ek ken en verstaan elke enkele emosie so goed. Sjoe, ek is gek hieroor!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek