Dorland
ek staar na die Kaapse somerveld
dis warm, droog, en lelik
die dorheid pluk-pluk aan my klere
die somberheid klim binne-in
die uitgerekte mediterreense somer
moes lankal noordwaarts wyk
maar hy steur hom nie aan die almanak nie
die veldgras is asgeel verbleek
die bergfynbos,
gewoonlik in ‘n sagte vaalgroen getooi,
lyk afgerem, geskakeer tussen geelbruin en ‘n afgeskeepte kakie
selfs die talle indringers lyk bedremmeld
moedeloos oorgegee aan die tierende suid-ooster
en die moordende bergwinde
berg en veld smag woordloos
na die eerste tekens van die najaar
na die kraakvars herfsoggende
die eerste frontale reën
en die kabbeling van die eerste bergstroompies
net soos my windverwaaide gemoed
moeg gestry
teen die heersende gety
hunker na die belofte van verkwikking
©️cs-mrt-25
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Maart 2025 – OOP projek