Jongste aktiwiteit:

Skaapdoring

Chris was nog altyd ‘n man vir en van die aarde. Hoe nader hy aan die aarde kon kom en lewe of die aarde aan hom, hoe beter. Juis daarom het hy net meer as vyftien jaar gelede sy saai en vervelige beroep vaarwel geroep en sy afgeforseerde lewenstyl en konformiteit aan verwagtings van die samelewing afgesweer en ‘n nudis geword. Met die geld wat hy in sy net minder as twintig jaar in die korporatiewe wêreld bymekaargemaak het, het hy vir hom ‘n stukkie grond gekoop. Hy het baie lank na die ideale plek gesoek en uiteindelik die plek gevind wat aan al sy verwagtinge voldoen het. Skaapdoring, ‘n klein lappie aarde ver genoeg van alles en almal, maar naby genoeg aan die aarde, ‘n plek waar hy homself kon wees en een met die aarde kon leef. Skaapdoring het hom genoeg ruimte gebied om homself ten volle te kon uitleef, maar ook die privaatheid om hierdie unieke leefstyl bo die gejaagdheid en konformiteit van ‘n konserwatiewe gemeenskap te kon handhaaf. Dit was veilig en afgesonder en baie privaat. Chris was sy hele lewe lank nog ‘n alleenloper en een wat sy eie geselskap en die kommunikasie met die aarde en die skepping van die grootste waarde geag het. Sy verhouding met God, as onderhouer van die aarde, was vir hom persoonlik en spesiaal en hy het God juis daar in die interaksie met die aarde gevind. Vriende was daar min, want sy lewenstyl en oortuigings het mense soms maar op ‘n afstand gehou. Die vriende wat hom wel besoek het en soms selfs daar op sy lappie grond oorgeslaap het, was bewus van en gemaklik met sy lewenstyl en het soms meegedoen. Vir hulle was die aarde en die grond net so belangrik
Van die begin af het Chris gesorg dat hy, sover as menslik moontik, selfversorgend is. As vegetariër het hy sy eie groentetuin en vrugteboord gekweek en boorgat laat sink lank voordat hy finaal op die stuk grond kom bly het. Kos het hy op ‘n oop vuur gemaak, indien dit nodig sou wees, maar die meerderheid van die tyd het hy rou en onverwerkte kos geniet. Hy het geglo dat die aarde vir hom sal sorg as hy bereid is om vir die aat=rde te sorg. Skaapdoring was langs die rivier geleë, die rivier wat hy daarom ook as badplek gebruik het op die dae en tye wat hy dit nodig geag het.
Een dag elke maand het Chris van sy eksentrieke en vreemde lewenswyse afstand gedoen om sodoende die plaaslike dorpsgemeenskap te besoek. Soms het ‘n mens tog dinge nodig gekry waarin jy nie self kan voorsien nie en wat die aarde nie kan oplewer nie. Tog, ongeag van hierdie een maal ‘n maand dorpsbesoek was Chris ‘n baie gelukkige en tevrede mens. Hy het min besit, maar materiële dinge was vir hom onbelangrik. En ongestoord kon hy homself wees en doen wat hy nog altyd wou doen. Hy was aan niemand enigiets verskuldig nie en van niemand afhanklik nie en hy kon nie vir beter vra nie.
Dit was tot so ongeveer drie maande gelede. Hierdie grond en aarde waarvoor hy so lief was en waarmee hy in harmonie geleef het, het hom ‘n vuil streep getrek. Want voor hy sy oë kon uitvee, het hy besoek ontvang, besoek wat hy nie verwag het nie. Besoek van mense met stootskrapers en lorries. Mynwerkers. Hulle het aan hom verduidelik dat die stuk grond wat hy gekoop het, ryk aan mangaan was, iets waarvan hy totaal onbewus was, maar iets wat hulle blykbaar ‘n aanvraag voor gehad het. Om dit te bekom sou hulle hom baie vergoed. Chris was egter nie inskiklik nie. Nie net het hierdie besoekers sy privaatheid binnegedring nie, maar sou, as hulle hulle sin kry, hierdie mooi stuk grond omdol en totaal verwoes en dit sou hy nie toelaat nie. Aanvanklik het hy dan ook viervoet vasgeskop. Hy sou nooit sy vryheid prysgee nie. Hy sou nooit sy stuk aarde prysgee nie. Maar sy stryd was teen ‘n oormag en hy het uiteindelik geen kesuse gehad nie as om toe te gee. Die geldelike vergoeding hom aangebied was meer as vier maal dit wat hy vir die grond betaal het, geld waarmee hy vir die res van sy lewe sonder enige kommer sou kon lewe, maar vir hom het dit niks beteken nie. Want geld koop nie geluk nie. Geld koop nie vryheid nie.
Vandag is hierdie stuk aarde ‘n hoop klippe en grond en die ene mynbedrywigheid. Chris het weer ‘n plekkie gekoop, maar dit is anders. Want hy het sy vertroue in die aarde verloor, die aarde wat hom in die steek gelaat het.
©️Hennie du Toit
Brons 788 woorde




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed