Augustus 2026 – Aanhalingsprojek
Beste INKers,
Soos dit dapper skrywers betaam, het ons almal saam, met of sonder fanfare, die eerste helfte van hierdie jaar nou behoorlik onder die knie. Die tyd sleep nie voet nie, en voor ons kan sê: INK, Skryf in Afrikaans, is 2026 op sy rug. Die tyd het dus aangebreek dat ons ‘n paar uitdagende projekte aanpak. INKers is mos dapper, en sal ons nooit teen die einde hoef te beken dat “ons tussen die koue en skugter siele sal wees wat nooit oorwinning of nederlaag geken het nie.”* Indien jy oplettend was, sou jy merk dat ek Theodore Roosevelt* aangehaal (vryvertaal maar nietemin) het. Dit is híér waar die projekuitdaging interessant word:
DIGTERS:
1. Gebruik ‘n aanhaling van ‘n gerekende bron en skep ‘n gedig daarom.
2. Jy mag vryvertaal vanuit ‘n ander taal.
3. Jy mag ‘n gedeelte gebruik, of die volle aanhaling, net soos dit jou pas.
4. Jou gedig MOET 18 reëls hê. 4 Kwatryne en 1 koeplet. Hierdie konstruksie gaan streng beoordeel word, so moet asseblief nie daarvan afwyk nie.
5. Die aanhaling én outeur waaraan jy jou vers verleen, MOET in ‘n voetnota aangedui word onder jou vers.
6. Daar is geen ryminstruksie nie.
PROSA SKRYWERS:
1. Gebruik ‘n aanhaling van iemand wat jou in jou eie lewe beïndruk het, en skep ‘n prosastuk daarom.
2. Motiveer jou keuse deur die gehoor te oortuig van die impak wat dit op jou gelaat het.
3. Die prosastuk moet ten minste 800 woorde hê. Gebruik die geleentheid om uitbreidend te wees.
4. Meld jou woordtelling langs jou tema.
5. Die aanhaling én outeur moet in ‘n voetnota onder jou skrywe geplaas word.
VERHAAL SKRYWERS:
1. Winston Churchill: “Sukses is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie: dit is die moed om voort te gaan wat tel.”
2. Gebruik die bostaande aanhaling en skep ‘n kortverhaal daarom.
3. Woordtelling 1200 – 2000 woorde.
4. Jy mag die aanhaling vrylik interpreteer, maar dit moet steeds herkenbaar wees in die storie ontwikkeling.
5. Let op goeie karakterontwikkeling en gebruik goeie skoon dialoog in jou verhaal.
Lekker skryf, want innoverende mense doen dit in Afrikaans.
Skryfgroete
Projekbestuurder.
*ONTHOU SLEGS 2 INSKRYWINGS BY GEDIGTE EN VERHALE AFDELING EN 3 INSKRYWINGS BY DIE PROSA AFDELING PER LID ASB. ELKE LID MOET OOK ASB SY STERGRADERING VIR ONS DEURGEE AAN DIE BOKANT VAN SY/HAAR GEDIG PUBLIKASIES ASOOK DIE WOORDETAL VAN JOU PROSA EN VERHAAL PUBLIKASIES. LET OOK ASB DAAROP OM JOU NAAM ONDER AAN JOU PLASING TE SIT ASB.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.