ASIELSOEKENDE TOERIS
Asielsoekende Toeris?
In die koerantartikel het as eerste gestaan dat die belangrikste van jou vakansiereis die anekdootjies, die staaltjies is wat jy agterna te vertel het. ‘n Sjinese toeris het heelwat om te vertel wanneer hy binnekort huistoe kom.
.
In Heidelberg, die „Mekka” van toeriste in Duitsland, ook van die Sjinese, is hy beroof wát, weet ek nie: Kamera, horlosie, beursie,…? Elkgeval, hy besluit om dit by die polisie aan te meld. Gedag, gedaan. En hy kom by ‘n ampskantoor uit waar ‘n stapel vorms vir publieke gebruik uitlê. Daarvan vul hy een uit en reik dit oor die toonbank in. Hy word na binne gelei waar sy paspoort weggeneem word en hy ‘n ander dokument in die hand gedruk kry. Toe word hy na ‘n ander stad gebring. Daar kry hy ‘n kamer toegedeel, gereëlde maaltye, ‘n sakgeld en toegang tot ander mense wat ook daar woon. Met hulle kan hy nie praat nie, hy praat slegs Mandaryns.
Hy het ‘n aansoek om asiel uitgevul, nie ‘n verklaring dat hy beroof is nie! En in die wagtyd tot sy geval gehoor kan word, is hy in ‘n soort koshuis vir asielsoekendes opgeneem.
Nou, die man kan nog Duits, nog Engels, nog ‘n ander bekende taal nie. Hy is slegs Mandaryns magtig. Na ‘n paar dae het ‘n amptenaar gewonder wat hierdie goedgeklede, ja vername man hier onder die vlugtelinge soek. ‘n Sjinees ook nog. Nou moet julle weet dat Duitsland en Europa tans van vlugtelinge oorloop. Hulle kom uit die hele wêreld, hulle het alles verloor en kom meestens in tooiings hier aan. En hoe land so ‘n vername heer in hierdie omgewing?
So het ‘n amptenaar van die „Auffanglager” (ontvangkamp) ook gedink en het deur middel van ‘n vertaalkomputer met hom kon „gesels”: As jy in die een taal daarin praat, kom dit in die ander taal uit. Hoe ver sy reisgroep gekom het, of hy sy vliegtuig verpas het, word nie berig nie. Hoe hy ‘n vorm in duits kon uitvul ook nie. Maar dit het in die koerant gestaan. En soos ons weet: Die koerante lieg nie. Nooit nie.
Mos.
Nè?
.
©10e.Aug2016………………………◄]:o(…||…(o;Þ…………………………………………tje.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Nog so 'n papiereend, soos die plaaswerkers wat oorboord gespring het toe die doodskis oopgaan. Lank lewe die persvryheid! GvT