ADELSPREDIKATE
ADELSPREDIKATE
[Vervolstandiging van ‘n korter notisie in my resensie van die film, „Die Trapp-familie – ‘n Lewe vir die Musiek.”]
Baie duitse familiename begin met „Von”. Meestens is dit mense van adelike afstamming, maar nie almal is adelik slegs omdat hy ‘n „Von” voor sy van het nie.
As die familie nie-adelik is, sê hulle altyd, soos by ons, von of von der want dit dui aan waarvandaan hulle stam, byvoorbeeld von Fintel – kom van die dorpie Fintel, von Delventhal – uit daardie vallei, soos by van der Merwe – stam van die oewer van die Merwederivier af, ens. Die adelike IS daardie naam, hy stam van of uit die mensegeslag wat so heet, maak nie saak waar hy gebore is of nou woon nie: Rykskanselier von Bismark, Generaal von Paulus – dis so te sê deel van hulle ampstitel, veral nie-adelikes spreek hulle so aan. Maar „Bismark het onder twee Keisers gedien” en „Paulus was die hoof van die Sesde Leer by Stalingrad.” So ver ek weet was Paulus gebore adel, Bismark is deur die keiser in die adelstand opgehef, maar dit tref vir altwee. As hy aan die telefoon moes gaan, sou hy „Bismark!” in die mondstuk blaf. Hy hoef nie sy adelspredkaat (voorsetsel) uit te spreek nie. (My kollega het haarself altyd slegs as „Maydel” aangekondig, ofskoon daar ‘n halfdosyn nie-adelike Maydels in die telefoonboek ingeteken was — „pruissiese Landadel” op die vlak van ‘n baron.)
Daarteenoor antwoord die nie-adelike met „Von Fintel” as ek hom bel. Ofskoon die adel uit die daaglikse politiek verdwyn het, is dit nog altyd in die bewussyn van die mense. As voorbeeld: ‘n Ministerin se familienaam is Von der Leyen. Nou is sy ’n bekende figuur; oor die radio hoor ek, „Verdedigingsministerin VÓN der Leyen was in Afghanistan. . .” Die VON ekstra betoondʘ. ‘n Paar jare gelede was daar ‘n ander minister, Otto von Lammsdorf. Ek het nie geweet dat hy adelik is nie want dit was „Lammsdorf” hier en „Lammsdorf” daar. Niemand het sy „Von” uitgespreek nie, tot ek eendag ‘n artikel über Otto von Lammsdorf gelees het. Hy was hoogadel (geen barontjie of so nie) en sy eintlike titel was „Otto Graf Lammsdorf”. Of hy ‘n kasteel of ‘n burg bewoon het? Weet ek nie; destyds waarskynlik ‘n woonstel êrens in Bonn. Gedurende die parlementsitting, meen ek.
Oosterryk is ‘n republiek en erken die adelikes en hul titels ook nie meer aan nie. Die Habsburgs was ‘n oosterrykse dinastie, gestig deur ‘n koning met ‘n vrugbare vrou: Sewe dogters. Nou, waarvoor in hemelsnaam is ‘n dogter goed? Kos net bruidgeld. En dan nog sewe daarvan! Hierdie sewe dogters is toe in sewe koninkryke oral in Europa geplaas – en Habsburg het die politiese drade en draadjies styf in die hand vasgehou. (Marie Antoinette, die franse keiserin was ‘n Habsburgerin en het in die franse rewolusie op die skavot gesterf.) Toe die Republiek Oosterryk uitgeroep is, word die koning en sy hele familie verban. Die laaste Habsburgs het geen eiendom of besitreg in Oosterryk nie en woon in Duitsland. Die laaste adelike met titel was die beroemde dirigent, Herbert von Karajan — uit reklame- en besigheidsredes.
Die (von) Trapp-Familie was in Oosterryk met én sonder predikaat bekend; die mense het moeiteloos daarmee omgegaan. In Amerika soos in Suid-Afrika tel die adel nie meer nie; dan is dit vir immigrante nie meer belangrik nie: „The Trapp Family Singers on tour.”
[ʘ Origens: Ek verneem dat dit eer noord-duitse gebruik is: VON te betoon.]
©.22e.Okt.2018______c]:o(..(o;[►_______________tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.