Jongste aktiwiteit:

Afrikaans, die taal van die onderdrukker, EN die onderdrukte

(Woordtelling : 789)

 

Taal is nie sommer-maar-net ʼn klomp woorde wat met sekere klanke aanmekaar gestring word nie, maar dit het sy eie geskiedenis. En veral omdat Afrikaans nog ʼn jong taal is, hoef ons die geskiedenis daarvan nie te vreeslik ver in die verlede te gaan soek nie.

Afrikaans is oorspronklik deur die slawe aan die Kaapkolonie gepraat en het ontstaan as ʼn oorspronklike tipe Fanagolo. Mense wat verskillende tale gepraat het was as slawe aangehou en op een of ander manier moes hulle kommunikeer. Dit is geensins anders as ons hedendaagse mynwerkers wat hul eie mengsel van verskillende tale saamgegooi het om mekaar beter te verstaan nie – ʼn mengsel van hoofsaaklik Zulu, Afrikaans, Engels en watter ander taal daar ook ingesluit word.

Destyds, toe Afrikaans nog ʼn jong taal was en nie net meer deur die slawe gebruik was nie, het die destydse Britse regering nie geskroom om Afrikaans te onderdruk nie. Engels was die voertaal in die skool en as jy nie Engels gepraat het nie, is ʼn skryfbord met die woord “donkey” om die kind se nek gehang. Dit was die kind se straf omdat hy gedurf het om die onbeskaafde taal, Hollands, te gebruik.

Die verengelsing het veral sedert 1860 skerp in skole in die Kaapkolonie toegeneem. Kinders moes met mekaar Engels praat om straf vry te spring. Die straf vir so ʼn oortreding was nie net die dra van die skryfbord nie, maar ook honderde reëls wat uitgeskryf moes word met stellings soos, “I must not speak Dutch and ought to know it by now.”

Afrikaans was dus ook gesien as die taal van die armlastige, die onopgevoede, vuil en verwaarloos. Heel moontlik is hierdie mense dan ook as minder intelligent beskou en as minderwaardig gehanteer. Hierdie vorm van straf het eers tot ʼn einde gekom toe moedertaalonderrig vanaf 1912 in skole ingestel sou word. Die provinsiale rade van Vrystaat, Transvaal en die Kaap het bepaal dat die eerste ses jaar van ʼn kind se onderrig in sy moedertaal moes wees.

Hierdie selfde praktyk was aan die begin van die twintigste eeu in Frankryk gebruik. Kinders wat betrap was dat hulle Baskies in plaas van Frans sou praat, sou ʼn stok genaamd Anti-Basties, met ʼn riem om sy nek moes dra. Die kind wat aan die einde van die dag hierdie Anti om sy nek gehad het, moes na skool agterbly en uitskryf werk doen. Die gebruik van hierdie praktyk was vernietigend en binne twee geslagte was Baskies as gebruikstaal feitlik heeltemal uitgewis.

Op eie bodem, sedert die 1950’s, was daar pogings om moedertaalonderrig vir alle tale in Suid-Afrika in te stel. Ongelukkig was daar groot teenkanting vanuit die nie-blanke geledere, veral toe die Wet op Bantoe-onderwys in 1953 moedertaalonderrig verpligtend gemaak was. Tot hul eie nadeel, wou hulle nie in hul eie taal onderrig word tot in die destydse St. 2 nie, en wou ook nie ʼn dubbel-medium onderrig ontvang wat Afrikaans of Engels sou insluit nie. Vandag, meer as sewentig jaar later, is daar nog steeds nie ʼn werkbare oplossing gevind nie. Inteendeel, die ANC-regering het in die laaste dertig jaar dit so saggies in die agtergrond laat wegsyfer en vele pogings om moedertaalonderrig weer ingestel te kry, misluk klaaglik.

Selfs aan die Universiteit van Stellenbosch was daar klagtes dat die koshuisstudente nie met mekaar of hul besoekende ouers Afrikaans mag praat nie. Dit is dus bloot ʼn herhaling van onderdrukking van jou reg om jou moedertaal te praat, selfs met mense wat dieselfde taal as jy handhaaf. En hierdie ongeskrewe reël het ook buite klasverband gegeld – ʼn basiese skending van enige persoon se menseregte, maak nie saak watter taal jy praat nie.

Al het Engels die taal van aspirasie en sofistikasie geword, is dit interessant dat Engels nie deur die oorgrote meerderheid van die land se inwoners as moedertaal gebruik word nie. Afrikaans is die derde grootste moedertaal naas Zoeloe en Xhosa. Engels daarenteen word deur minder as 10% van die totale bevolking as moedertaal in Suid-Afrika gebruik, maar word wel as voertaal deur die wyer publiek aanvaar. Wat ook interessant is, is die feit dat die meeste Afrikaans sprekendes nie blankes is nie, maar 50% is bruin, 40% wit, 9% swart mense, en 1% kom uit ander groepe. Dit beteken dus dat 60% wat Afrikaans as moedertaal gebruik, nie blankes is nie.

Net die toekoms sal leer of ons ooit uit die foute van ons verlede gaan leer. Dit is lankal tyd dat elke kind die voorreg het om in sy eie taal skool te gaan. Ons kla so maklik dat kinders nie met begrip kan lees nie, maar om een of ander rede wil die regering nie die nodige fondse beskikbaar stel sodat die werklike probleem aangespreek kan word nie – moedertaalonderrig.

 

 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/was-afrikaners-taalverdrukkers/

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/twee-kontinente-twee-gemeenskappe-dieselfde-hartseer-taalgeskiedenis/

https://www.sun.ac.za/english/Documents/In%20the%20news/2016%2004%20April/07%20Apr%20-%20Die%20Beeld%20-%2012%20leuens%20oor%20die%20taal.pdf




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed