Vergeet om te vergeet
met soveel liefde en soveel vrede
leef jy nou in die verlede
nie bewus van plek of tyd
gaan jy maar rustig voort
met die dinge van lank gelee
nog nie uit jou geheue gevee
name wat ek nooit leer ken het
ouderdom wat die keer gewen het
jou brein is nou opgeroes
jou spraak ’n sagte mengelmoes
deur jou oë probeer ek soek
’n stukkie van my in jou boek
jy kan niks meer van my onthou
net nou en dan die dag van ons trou
sien jy nie vir ons in my oë
die vreemdheid laat my so bewoë
as jy net nog my naam sou ken
’n uitveer vee dit alles uit
wil jy my nou by die deur uit smyt
ek sal vashou aan my onthou
jy bly elke dag my vrou
en al ken jy nie meer my naam
ek onthou ons jare saam
ek sal ons twee lewendig hou
en aan die herinneringe klou
kom sit maar hier by my asseblief
ek is vir jou vreemd, maar ek het jou lief
noem my maar net wat jy wil
ons is bymekaar, al is dit stil
3 Kommentare
-
Kiekies
Treffend verby! Applous hiervoor!
-
Toom
'n Baie goeie daarstelling. As mens eendag sewentig is (ons het mos sewentig tot tagtig) begin die mense vra of dít nie een van die tekens is nie... En dit? En dít? ... Jy weet al dat jy vergeterig is. Oei-oei-oei. Dan kan jy bang word. En dan het jy so 'n suil nodig! Broodnodig. Mooi gedaan. GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
Ag, mag dit wees dat wanneer ek ook vergeet -deur uitwissing van onthou- daar nog iemand sal wees wat my lief genoeg sal hê om ook sommer vir my part te onthou... Dierbare werkie. Dankie.