
As dit reën in die Boland
Bo teen die hang wou immergroen
al die proteas oopbek soen,
bloekombos het die diens gehou
toe bergwater met spoelklip trou,
haar ruiker was van aronskelk
aristokraties, wit soos melk,
fynbos, die plaas se kaalvoetkind
het heide om haar heupe gebind
en gereëndans met die westewind
In die boord
het pruimedant en appelkoos
rooihakskeen oor die pret gebloos,
wingerd het haar bruin winterjas
styf om haar sluimerlyf gepas
die joligheid blinkoog betrag
en ongeduldig op haar beurt gewag!
Sluimerlyf – haar winterslaaplyf
©️Elize Kruger
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek