As Sondag te lank raak
As Sondag te lank raak
en elke uur homself van die ooste tot oor
die horison aan die weste uitrek,
vind jy ‘n ander betekenis
in die woordjie alleen …
staan jou beker langs die ketel
met een skeppie koffiepoeier in,
want die enêmmel koffiepot
met duisend stories in sy maag,
is nou te groot vir jou alleen
en treur daar buite nog die Wilger
brand die son ongenadig neer
oor kurkdroog veld en vlei,
smeek jy God om die natuur te seën
knielend langs jul bed, jy alleen
Uiteindelik koel die breë rondomstoep
in skemeraand se loom tot lou
bring die nag se talle rondrolure
die oggend stadigaan nader
saam met die week se werk vir jou
alleen …
©adéle theron
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.